|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek weer op verskeie fronte ingegryp en ’n daadwerklike bydrae gemaak tot die verbetering van gemeenskappe en mense se lewens.

In Bethal het die tak en die gemeenskap hande gevat om lone en toerusting vir die slaggatherstelspan te kry wat in verskeie strate slaggate herstel het. AfriForum se eie slaggatspan het ook slaggate gevul en reeds meer as 200 sakkies teer gebruik vir hierdie projek. Die tak moedig inwoners ook aan om dit voor hul eie wonings en ondernemings skoon te hou.

Die Sasolburg-tak het voortgegaan met hul grassnyprojekte en ook begin om straatligte in Vaalpark te herstel. Daar is reeds 12 ligte herstel, terwyl die tak ook Oliviershoeklaan in die rigting van die R59 skoongemaak het.

In Nelspruit het die tak ’n hand uitgereik na die Grace Baby Haven, ’n veilige hawe vir weggooi- en mishandelde babas. Meer as 800 babadoeke en klere is afgelewer. Dit is deel van die tak se projek om doeke en basiese benodighede aan instansies te skenk wat nie die nodige fondse het om dit self aan te koop nie.

Soos talle dorpe in die land was Kamieskroon en Garies ook reeds twee weke sonder water. ’n Prokureursbrief is aan die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit gerig om te eis dat die munisipaliteit water aan die verbruikers in die dorpe voorsien.

AfriForum het ook met sy regspan gekonsulteer oor die krag- en waterkrisis in Parys. Die krisis spruit voort uit Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se nienakoming van hul afbetalingsooreenkoms met Eskom om hul skuld van R1,54 miljard te delg. Die gebrek aan elektrisiteit het tot gevolg dat daar min tot geen water aan die groter Parys gelewer kan word nie. AfriForum het reeds einde 2021 ’n ooreenkoms met Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gesluit waar die organisasie aan die munisipaliteit aanbevelings gemaak het oor wat om te doen om die waterwerke en die rioolwerke in ’n goeie werkende toestand te kry. Die munisipaliteit het nie ’n enkele aanbeveling uitgevoer nie.

Die Brits-tak was paraat en het gehelp om ’n verdagte vas te trek wat besig was om uit ’n motor in die Zandfontein-omgewing te steel. Hy is in hegtenis geneem en beslag is op die gereedskap gelê waarmee die misdaad gepleeg is.

Die Apiesrivier-buurtwag het ’n nuwe selfoon gekry om gemeenskapslede op ’n meer doeltreffende wyse by te staan. Hierdie selfoon is vanaf 7 Julie in werking en sal hoofsaaklik vir noodgevalle gebruik word. Diegene wat in nood verkeer, kan 076 647 2942 skakel vir hulp. Die buurtwag het ook nuwe voertuigmagnete gekry om sigbaarheid in die gemeenskap te verhoog.

AfriForum Jeug het hul kommer oor die hoë werkloosheidskoers in die land te kenne gegee deur ’n boek oor basiese ekonomiese feite en valshede aan ’n verteenwoordiger van pres. Cyril Ramaphosa by die Uniegebou te oorhandig.

AfriForum, die kantoor van iNkosi (opperhoof) Zwelothando Mabandla, Saai en hul landbouwaardeketting ontwikkelingsvennoot, Agri All Africa (AaA), het vandeesweek die eerste stappe geneem vir die daarstelling van ’n gesamentlike landbouontwikkelingsprojek vir die AmaBhele kaJamangile tradisionele gemeenskap. Verteenwoordigers van AfriForum, die kantoor van iNkosi Zwelothando en AaA het verskeie raadplegende vergaderings gehad met rolspelers in die landbousektor in die Oos-Kaap.

Soortgelyke plasings