Eerste week van herdenkingsrit agter die blad
Verlede week is berig oor die herdenkingsrit wat ’n groep ruiters met AfriForum en ander borge se steun van Upington tot by die grens met Namibië onderneem. Dit het op 26 Junie 2022 ’n aanvang geneem. Die ruiters, Theunis, Fiona, Mia, Tanya en hulle rugsteun staatmaker Riaan, volg onder meer in die historiese spore van die rebelle van 1914 en besoek historiese bakens onderweg.
Die eerste week van die rit is nou al suksesvol agter die blad. Nadat Upington met sy unieke standbeelde vir die donkie en kameelpatrollie agtergelaat is, was ’n volgende besoekpunt die sogenaamde Rebellieboom. Hier het generaal Manie Maritz op 9 Oktober 1914 sy rangtekens van sy uniform afgehaal en aangekondig dat hy teen die Uniemagte rebelleer. Die leed wat die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog aan Afrikaners aangedoen het, was té vars in sy geheue om nou aan Britse kant in die Eerste Wêreldoorlog teen die Duitsers te veg.
Die aand van 29 Junie is by Khamkirri-kampterrein uitgespan danksy die gasvryheid van Danie en Philippa van Zyl. Danie het trots sy grootoupa, Stephanus Lodewyk Roos, se oorspronklike eervolle ontslagdokument aan die groep gewys. Dit is gedateer 5 Junie 1902 en is onderteken deur veggeneraal Hendrik Abraham Alberts, onder wie Roos in die Anglo-Boereoorlog geveg het.
Hier het die herdenkingsrit van koers verander – aanvanklik sou die groep na Kakamas ry en dan na Augrabies Nasionale Park, maar skynbaar is die roete onveilig en onbegaanbaar vir die perde. Omdat die kenmerk van die Herdenkingsritte is dat die groep tydens ’n rit heelpad te perd moet wees, is die roete eerder aangepas as om die perde op te laai en per sleepwa te vervoer. Daar is op Riemvasmaak as die volgende afsaalpunt besluit.
Die besondere geskiedenis van die Slag van Kakamas is wel deur middel van Facebook met die publiek gedeel. Toe die Uniemagte van Suid-Afrika in 1914 besluit het om ’n inval in Duits-Suidwes-Afrika (nou Namibië) te loods, het ’n invalsmag van sowat 6 000 man suid van Kakamas saamgetrek. Die oggend van 4 Februarie 1915 het vier Duitse kanonne op hulle losgebrand. Die Duitsers wou die ponte oor die Oranjerivier vernietig en die Uniemagte het dit probeer bewaak. Na ’n geveg wat ses ure lank geduur het en waarin die Duitsers sewe man verloor het, het laasgenoemde magte teruggeval. ’n Gedenkteken is in 1960 op die terrein deur die Duitse organisasie vir oorlogsgrafte opgerig.
Al met die stiller, veilige stofpaaie langs is Riemvasmaak op 1 Julie 2022 bereik. Die dorpie is naby die punt waar die Molopo- en Oranjerivier saamvloei, geleë. Hier het die perderuiters en donkiekardrywers van die plaaslike gemeenskap lekker gesels en oor en weer foto’s van mekaar se “vervoermiddels” geneem. Volgens oorlewering het die naam ontstaan toe ’n ou Damara wat erg aan rumatiek gely het, hom met rieme in die mineraalbronne in die kloof aldaar laat afsak het om verligting van die pyn te kry. Die Khoi-naam vir die plek, Konkaib, het in onbruik verval omdat die gemeenskap verafrikaans het.
Die aand is kamp in die natuurreservaat opgeslaan en die volgende dag is gerus – ons glo daardie bronne het ook vir die ruiters se moeë lywe lafenis gebring.
Die Augrabies Nasionale Park en waterval is vlugtig sonder die perde besoek. Volgende is gemik na Nous, waar die groep die aand van 4 Julie 2022 uitgespan het.
By Nous het die Uniemagte onder kommandant J.C.M. Breedt lelik op hulle neus gekyk op 22 Desember 1914 toe die rebelle onder leiding van Manie Maritz en Jan Kemp hulle vernederend verslaan het.
Pragtige foto’s van historiese grafte, maar ook die unieke betowerende landskap en fauna en flora wat daar aangetref word, kan op die “Herdenkingsritte” Facebook-groep gesien word. Hulle is ook aktief op Twitter en Instagram.
AfriForum bedank weer hierdie perde- en geskiedenisentoesiaste vir die geleentheid om die historiese weë saam met hulle te verken. Ons wens hulle voorspoed vir die laaste paar dae in die saal op hierdie roete toe.