Regering verbreek 1994-skikking met beplande wysigings aan Skolewet wat Afrikaanse skole teiken
Hierdie is ʼn openbare verklaring van belanghebbende organisasies wat hulle beywer vir
volhoubare Afrikaanse onderrig in openbare skole. Dit word aan minister Angie Motshekga,
as politieke hoof van die Departement van Basiese Onderwys en onderskrywer van Bela wysigingswetsontwerp, gerig.
Ons verklaar soos volg:
Met die grondwetlike skikking in 1994 is die belofte gemaak dat taal en kultuur in die
nuwe bedeling beskerm sal word. Dit sou insluit verdraagsaamheid en ruimte vir die
behoud en ontwikkeling van Afrikaans en ander inheemse tale. Die behoud van
Afrikaans as akademiese- en wetenskapstaal is in die skikking as ʼn bate voorgehou,
saam met die ontwikkeling van ander inheemse tale. Dit is ook verskans in artikel 6
van die Grondwet.
In die 28 regeringsjare van die ANC is daar nog geensins erns gemaak met hierdie
grondwetlike opdrag om Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal te behou en te
ontwikkel, óf om ander inheemse tale, naas Afrikaans, te ontwikkel nie.
Sekere van die voorgenome wysigings van die Skolewet is ʼn berekende aanval op
Afrikaanse onderwys en Afrikaanssprekendes as taalgemeenskap oor die hele land.
Afrikaans is die derde mees gesproke taal in die land met meer as sewe miljoen
moedertaalsprekers, waarvan meeste uit die bruin gemeenskap kom. Dit gaan huidige
Afrikaanssprekendes deur burokratiese en ideologiese besluite van hulle grondwetlike
reg op die onderrigtaal van hulle keuse ontneem. Dit sal ook ʼn onherstelbare en
permanente verbreking van die grondwetlike skikking deur die regering in 1994
daarstel.
Onderliggend aan sekere Bela-bepalings is daar ʼn valse voorstelling dat Afrikaanse
onderwys ʼn versperring vir toegang tot onderwys in die land is. Volgens die ANC is
breër toegang tot onderwys slegs moontlik wanneer Afrikaanse onderwys deur
wetgewing onmoontlik gemaak word.
In teenstelling met die volgehoue pogings van die ANC om Afrikaanse onderwys
verdag te maak, streef die Afrikaanse taalgemeenskap na ʼn positiewe, volhoubare
omgewing vir Afrikaanse onderrig en is ons aktief verbind tot veeltaligheid en nierassigheid.
Hierdie wetsontwerp spruit uit ʼn oppervlakkige beskouing van taal, en is daarop gerig
om die identiteit van Afrikaanssprekendes te misken, en om deur onderwys die
taaldiverse aard van die land teen te werk deur ʼn Engelse hegemonie af te dwing.
Die volgehoue verdagmaking van Afrikaanse onderwys veronderstel ook dat
Afrikaanssprekendes onwaardige burgers is wat nie hulle taal in openbare
onderwysinstellings mag laat voortleef nie. Dit veronderstel ook dat die staat en sy
burokrate alleen die wysheid het om te besluit wat in die belang van
Afrikaanssprekendes is. Dit is onvergeeflik dat volgende geslagte deur ʼn vyandige
regering ontneem gaan word van hulle reg op moedertaalonderrig in skole en
uiteindelik sonder keuse by die ANC se meerderheidsbeskouing van Afrikaans as ʼn
onwaardige taal in onderwys ingedwing sal word.
ʼn Verdere uitvloeisel van die kaping van Afrikaanse onderwys is dat dit die
betrokkenheid en vrygewigheid van Afrikaanse skoolgemeenskappe landswyd
ondermyn en dat Afrikaanse gemeenskappe se regstreekse seggenskap om deur
onderwys hulle gemeenskappe te verbeter, deur die staat weggeneem word.
Ten slotte verteenwoordig die spesifieke bepalings van Bela ʼn vertrouensbreuk van
regeringskant wat ook verantwoordelik was vir die daarstelling van grondwetlike
instrumente om ruimte te skep vir Afrikaans en ander inheemse tale om in die nuwe
bedeling voort te bestaan, net om daardie selfde grondwetlike instrumente te gebruik
om Afrikaanse onderwys ongedaan te maak.
Hiermee word verklaar dat indien Bela sou slaag, dit as ʼn eensydige verbreking deur
die regering van die grondwetlike skikking van 1994 geag sal word, en dat die
vertrouensbreuk tussen die Afrikaanse taalgemeenskap en die regering onherstelbaar
en permanent sal wees.