|

Beskuldigde 4 j. ná ongeluk in hof danksy AfriForum-ingryping

Ruvan Olivier (23) van Krugersdorp het vandag in die plaaslike streekshof op aanklagte van onder meer strafbare manslag en regsverydeling verskyn ná die dood van die veteraanfietsryer Nino Oppel (41) in 2018.

Oppel is na bewering in Februarie 2018 in Hendrik Potgieter-rylaan naby die Cradle Stone-winkelsentrum van sy fiets afgery. Hy was besig om voor te berei om aan die Berge en Dale-fietswedren in Muldersdrift buite Johannesburg deel te neem toe die verdagte se voertuig hom getref het en hy weggejaag het.

Ek is spyt ek het AfriForum só laat genader en ek hoop geregtigheid sal in die saak geskied.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag in die saak bekom om Oppel se gesin by te staan. Die eenheid het vroeër omvattende vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng (DOV) gerig nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik nie vervolging wou instel nie. Die NVG het intussen wel besluit daar is ‘n prima facie-saak om te vervolg.

Olivier word voorts daarvan beskuldig dat hy destyds van die toneel gevlug het en in die proses verskeie padreëls oortree het. Hy is ná die voorval na ’n vriend se huis waar hulle ’n verduideliking vir die skade aan sy voertuig uitgedink het.

Ruvan Olivier met sy eerste hofverskyning in Krugersdorp.

Die saak is vandag tot 3 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dit is betreurenswaardig dat die aanklaer die ondersoekbeampte moes opdrag gee om die ondersoek af te handel. ’n Senior polisiebeampte sal egter nou die nodige stappe doen om toe te sien dat die ondersoek voor die volgende hofdatum afgehandel sal wees.

Oppel se vrou, Daleen, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader ná die polisie nie veel vordering met die saak gemaak het nie. “Ek het AfriForum genader nadat die polisie my vir ’n jaar aan ’n lyntjie gehou het. Die polisie kon my nie verder help nie. Ek is verlig dat die saak wel vandag begin het, want dit beteken dinge gaan nou gebeur. Die afgelope vier jaar het baie stadig beweeg. Ek is spyt ek het AfriForum só laat genader en ek hoop geregtigheid sal in die saak geskied,” sê sy.

Daleen Oppel

Wyle Oppel was ’n rekenmeester van Sandton en is na die ongeluk in die Netcare Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp dood.

Soortgelyke plasings