Lae skuldigbevindingskoers van plaasmoordenaars is kommerwekkend
AfriForum is bekommerd oor die lae arrestasie- en skuldigbevindingskoers van plaasmoordenaars en meen meer navorsing hieroor is dringend nodig.
In ’n omvattende verslag wat die organisasie vandag oor plaasmoorde bekend gemaak het, is bevind dat slegs 33% van gearresteerdes in 364 plaasmoorde oor die afgelope ses jaar (2016 – 2021) aangekeer en skuldig bevind is.
Die inhegtenisneming van verdagtes en die skuldigbevinding van oortreders is met behulp van ’n oopbron media-analise ondersoek en beoordeel. Aangesien die media nie noodwendig elke dag oor elke saak berig nie, moet hierdie syfers as konserwatief bestempel word.
Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dit is skokkend dat tydens plaasmoorde, ’n gemiddeld van 47% van aanvallers wat bekend is, in hegtenis geneem is, en net 33% van die gearresteerde oortreders skuldig bevind is.
Die verslag het ook bevind dat daar nie ’n enkele jaar is waarin marteling nie plaasgevind het nie en dat gemiddeld 15% van die slagoffers van plaasmoorde brutaal gemartel is. In 52% van die moorde (165) is slagoffers geskiet, 18% is doodgesteek, 10% is doodgeslaan en 6% is verwurg. Waar slagoffers geskiet is, is hulle dikwels meer as een keer geskiet of op teregstellingswyse.
Volgens Johan Nortjé, ’n navorser by AfriForum, is hierdie tendens uiters kommerwekkend en daar moet dringend aandag daaraan gegee word. “In 2020 is 24% van die moordslagoffers gemartel. Dit toon dat plaasaanvalle nie net ’n gewone misdaad is nie en geprioritiseer moet word.”
Roets meen ook plaasmoorde is ’n unieke misdaad wat ’n unieke teenstrategie van die polisie verg. “Ons vra nie spesiale behandeling vir boere nie, maar gelyke behandeling.”
Roets is ook bekommerd oor die narratief van politici en politieke leiers wat ontken dat plaasmoorde ’n probleem is of selfs bestaan en ook voortgaan om van verhoë af mense op te sweep, haatspraak te pleeg en boere as diewe en wrede misdadigers voor te hou. “As belastingbetalers is die minste waarvoor landsburgers vra dat die regering en polisie hulle moet beveilig en dit is ook so in die geval van boere.
“Omdat dit egter nie gebeur nie, moet AfriForum ’n dubbelstrategie volg en gemeenskappe ook bemagtig en oplei om hulself te beveilig.”
Guido Urlings, bestuurder van steundienste by AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling, sê weerbaarheid en veerkragtigheid moet in gemeenskappe, ook landelike gemeenskappe, gebou word sodat boere en hul gesinne hulself beter kan beveilig. Om hiermee te help het AfriForum reeds 164 buurt- en plaaswagte waarby 9 000 vrywilligers betrokke. Elkeen van hierdie strukture moet gebeurlikheidsplanne ontwikkel sou daar aanvalle wees en paraat wees om op te tree. In die gemeenskappe word ook protospanne opgelei wat met kundigheid op misdaadvoorvalle kan reageer en ook korrek op misdaadtonele kan optree. In die stryd teen misdaad word toenemend ook van hommeltuie gebruik gemaak, al is dit baie duur.
Urlings wys ook op die belangrike rol wat AfriForum se Trauma-eenheid vervul. Slagoffers van geweldsmisdaad, veral plaasaanvalle, word ondersteun en bygestaan. Hulle kry traumaberading, word tydens hofsake bygestaan en in sommige gevalle word gehelp om plase te beveilig deur byvoorbeeld hekke of diefwering aan te bring. Gesinne word ook met mediese uitgawes en die skoonmaak van huise of vertrekke bygestaan waar slagoffers aangeval is.
Ander belangrike bevindings in die verslag is dat die meeste gedokumenteerde plaasmoorde in Gauteng en die minste in die Noord-Kaap voorgekom het. Die gemiddelde ouderdom van slagoffers was 57 en die meeste moordslagoffers was manlik. Hoewel die meeste moorde tussen 18:00 en 20:59 gepleeg is, vind dit enige tyd van die dag plaas.
Enigiemand wat wil bydra om te help om plase te beveilig, kan dit hier doen. https://www.givengain.com/cc/beveilig-n-plaas/