AfriForum en Frankfort-inwoners daag Ramaphosa & kie in hof uit oor mislukte dienslewering
Frankfort, geleë langs die Wilgerivier, was eens ’n juweel in die Riemland wat in ’n stadium vyf jaar agtereenvolgens as die netjiesste dorp in die Vrystaat aangewys is.
Vandag gaan dit soos menige ander dorp in die land gebuk onder totale verval en agteruitgang, al is dit die tuisdorp van Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat.
AfriForum en die Mafube Besigheidsforum daag môre vir pres. Cyril Ramaphosa en 16 ander respondente in die Hooggeregshof in Bloemfontein uit in ’n poging om dienslewering by die vrot Mafube Plaaslike Munisipaliteit te herstel. “Talle grondwetlike skendings het genoop dat die organisasies saamspan om die munisipale bestuur, provinsiale en nasionale owerhede te bind tot ’n regsgeding wat dienslewering aan die gemeenskap sal verseker,” verduidelik Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
Die applikante vra dat die Mafube Plaaslike Munisipaliteit moet ontbind en dat die nasionale regering moet ingryp by die gemors en gereeld moet terugvoer gee oor vordering in die verband. Voorts vra hulle dat hulle die administrasie en dienslewering tydelik moet oorneem totdat bewys gelewer is dat dienslewering herstel is.
“Hoewel plaaslike owerhede outonoom is, is daar steeds binne die Grondwet ’n oorsigbevoegdheid van die provinsie om te verseker dat dienste gelewer word. Die geval is van so aard dat die provinsiale regering in die Vrystaat van al die probleme geweet het, maar niks daaraan gedoen het nie. Dit is waarom hierdie verpligting dan op nasionale vlak rus, om hierdie dienste te verseker. Samewerkende regering en uiteindelik die president moet tussenbeide tree indien die staat nie aan die grondwetlike maatstawwe voldoen nie,” sê Mostert.
Die respondente gee toe dat dringende ingryping nodig is, maar staan die aansoek teen oor wie se verantwoordelikheid dit is.
Die inwoners van Frankfort is kwaad en keelvol vir ANC-kaders en –amptenare by die Mafube Plaaslike Munisipaliteit wat Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia moet bedien. Dit verteenwoordig sowat 60 000 inwoners, sê Hans Pretorius, bestuurder vir water en dienste by die Mafube Besigheidsforum.
Ironies genoeg beteken Mafube in Sotho “opkoms van ’n nuwe dag”, maar vir inwoners in die dorpe en omliggende townships voel dit eerder of die son finaal hier ondergegaan het.
Die Mafube Besigheidsforum is in 2019 gestig om aandag aan die haglike omstandighede in Frankfort en omliggende dorpe te gee. Die Forum verteenwoordig inwoners, boere en sakelui. ’n Werkwinkel is met plaaslike, provinsiale en nasionale staatsinstellings en ander rolspelers in 2019 gehou waartydens besluit is om ’n ooreenkoms (die Mafube Stakeholders Compact) te onderteken om dienslewering aan die gang te kry om te verhoed dat die dorp totaal in duie stort.
“Almal was vuur en vlam oor die uitkoms, maar ’n dag voor dit onderteken moes word, het amptenare koue voete gekry. “Dit is duidelik dat politiek en die ANC vir hulle belangriker is as dienslewering aan gemeenskappe,” sê Pretorius.
Volgens Jacques Jansen van Vuuren, skakelbeampte van die Mafube Besigheidsforum, is daar feitlik geen dienste meer in Frankfort nie, behalwe elektrisiteitsvoorsiening wat deur Rural Free State versprei word. Daar is gereeld watertekorte, die rioleringstelsel funksioneer nie en rou riool borrel oral uit mangate uit en loop tot in die Wilgerivier en die Vaaldam. Die strate is vol slaggate, terwyl vullisverwydering nie gedoen word nie en die vullisterrein aan geen standaarde voldoen nie. Die terrein versper die toegangsroete na die rivierfront. ’n Eens luukse waterpark langs die rivier, wat ’n baie gewilde toeriste-aantreklikheid was, is ook heeltemal tot niet en vervalle.
Inwoners in Frankfort het vyf jaar laas enige munisipale rekeninge gekry. Feitlik niemand betaal belasting nie. Die invordering van geld deur die munisipaliteit is slegs sowat 8%. Die munisipaliteit is bankrot en daar bestaan nie iets soos finansiële bestuur of verslagdoening nie, terwyl die ouditeur-generaal se verslae ’n verdoemende prentjie skets. In 2021 het die munisipaliteit se debiteure-rekening meer as R630 miljoen beloop, terwyl krediteure sowat R600 miljoen geskuld word.
Die balju het ook reeds beslag op die roerende bates van die munisipaliteit gelê. Om alles te kroon, moes die provinsiale regering ook al in ’n stadium ingryp om te verseker dat munisipale werkers salarisse kry. Tydens die pandemie het die munisipaliteit sy COVID-19-toelae gebruik om salarisse te betaal in plaas van om waterinfrastruktuur te herstel.
Daar is gereeld watertekorte, die rioleringstelsel funksioneer nie en rou riool borrel oral uit mangate uit en loop tot in die Wilgerivier en die Vaaldam.
Om sake verder te vererger, werk die munisipaliteit se telefone, faksmasjiene, e-pos-adresse en webtuiste glad nie en is daar gevolglik geen kommunikasie tussen amptenare en gegriefde inwoners nie. “Ons het soveel pogings aangewend om die munisipaliteit te help en met hulle saam te werk. Maar hulle speel eerder ’n politieke spel as om hul samewerking te gee,” sê Jansen van Vuuren.
Omtrent niks het oorgebly van ‘n eens spoggerige waterpark net buite Frankfort nie. Rou riool spoel uit verskeie mangate in die dorp en beland in die Wilgerivier vanwaar dit in die Vaaldam loop.
Volgens hom is dit hartseer dat ’n gebied wat soveel potensiaal en soveel wonderlike mense het, se regte misken word. Gemeenskappe oor kleurgrense heen wil almal graag dienste hê, maar selfs daar waar hulle probeer om dinge op hul eie te verbeter, kry hulle teenstand van die ANC-raadslede en amptenare.
Die applikante voer aan alle ander remedies is uitgeput in ’n poging om die dorp van ondergang te red. Die beroep op die hooggeregshof is ’n laaste desperate poging om omvattende regshulp te kry.