|

Mag Geloftedag jou leer om te bly glo

Die stilte het nog nooit vir my só erg geraas soos die dag toe ek by die klipstapel in die middel van die replika-walaer by die Bloedrivier Erfenisterrein naby Dundee gaan staan het nie.

Ek en ’n kollega het in Junie vanjaar tydens ’n werksbesoek aan KwaZulu-Natal besluit om dié erfenisterrein, wat ons nog nie een voorheen besoek het nie, te verken. Hoewel ons kort voor toemaaktyd eers gearriveer het, het die vriendelike personeel steeds vir ons die DVD oor Die Slag van Bloedrivier in die museum se inligtingsentrum laat kyk en gesê ons kan ons tyd vat om af te stap en die unieke brons walaer deur te loop.

Die brons replikas van die vegwaens. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Net ‘n klein entjie van die museumgebou, en in amper dieselfde posisie en formasie as 183 jaar gelede, staan dié brons replikas van die vegwaens waaruit minder as 500 Voortrekkers hulself teen meer as 10 000 Zoeloes op 16 Desember 1838 verdedig het.

Die waens lyk dalk groot van buite af, maar binne was dié knap ruimtes soms ’n gesin van vyf of meer se hele tuiste. Sitkamer, slaapkamer én eetkamer soos die meesterwabouer prof. Erik Holm sê.

Ek het myself probeer indink hoe die Voortrekkers se gemoedstoestand was, veral op die vooraand van wat seker een van die merkwaardigste veldslae in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was. Ek twyfel dat daar veel of enigsins geslaap was en wonder hoe mans hul vrouens en ma’s hul kinders moes troos of moed inpraat. Só wonder ek toe of die Zoeloes óók bang was?

Weerskante van die klipstapel is gedenkplate met die Gelofte wat die Voortrekkers onder leiding van Sarel Cilliers voor die veldslag, en heel moontlik oor en oor deur die nag van 15 Desember 1838, afgelê het.

Die gedenkplate met die Gelofte wat die Voortrekkers afgelê het. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die stilte binne die replika-walaer tydens ons besoek staan in skerp kontras met die onheilspellende gebrom van die duisende Zoeloe-soldate wat die Voortrekkers in 1838 binne hul walaer moes gehoor het. Toe ek my oë toemaak, kon ek dit egter óók hoor. Dit het vir my gevoel of ek byna op heilige grond staan en as ons tyd nie kortgeknip was nie, sou ek maklik nóg ’n uur daar kon deurbring.  

Nes die Voortrekkers weet ons nie wat môre gaan bring nie en behoort hul diepe geloof en gelofte ons elke dag te inspireer om te bly glo.

Toe ons terugstap na ons voertuig toe, het ek nog ’n laaste keer omgedraai en geloer na die walaer. Min het die Voortrekkers geweet wat vir hul voorlê toe hulle die Kaapkolonie verlaat het. Net só het ons nie geweet watter onluste die land, en veral die provinsie waarin ons onsself toe bevind het, ’n paar dae na ons besoek sou tref nie. Dieselfde kan gesê word oor die COVID-19-pandemie en seker ook oor elke dag van ons lewens.

Ek het té min kennis van my stamboom om te weet of enigiemand in my familie aan die Groot Trek of die Slag van Bloedrivier deelgeneem het, maar tog voel dit asof hierdie veldslag ook deel van my geskiedenis is. Ná my kort besoek is ek ook meer as ooit daarvan oortuig dat geskiedenis een van die belangrikste vakke behoort te wees en dat ‘n uitstappie na die Bloedrivier Erfenisterrein op elkeen se emmerskoplys moet wees. Want nes die Voortrekkers weet ons nie wat môre gaan bring nie en behoort hul diepe geloof en gelofte ons elke dag te inspireer om te bly glo. Glo in ’n beter land, ’n beter toekoms en ’n beter lewe.

Soortgelyke plasings