|

AfriForum se Rustenburg-tak skenk bome aan gemeenskap

Die AfriForum-tak in Rustenburg het op 13 Oktober 2021, vier peperbasbome aan Schoongezigt Estate en Tambotie Park geskenk as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Peperbasbome is gekies aangesien dit op die Suid-Afrikaanse lys van beskermde bome is. Drie bome is geplant in die groenstrook by Schoongezigt, terwyl een boom geplant gaan word in Tambotie Park. Tambotie Park is ’n oop stuk grond wat deur die gemeenskap omskep is in ’n park nadat dit voorheen as onwettige stortingsterrein gebruik is.

“Dit is elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid om bome te bewaar en seker te maak dat die verbruik van bome volhoubaar bestuur word. Die AfriForum-tak heg baie waarde aan ons omgewing en poog om ’n beter woonplek vir ons kinders na te laat. Hierdie projek wys dat ons trots is op ons omgewing en dat ons graag ’n positiewe nalatenskap wil los,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“AfriForum en al sy takke werk hard om ’n wesenlike verskil in dorpe te maak. Ons besef dat ons ’n verantwoordelikheid het om ’n beter omgewing na te laat vir toekomstige geslagte en ons kom hierdie verantwoordelikheid na deur aksies soos dié. Ons wil al ons takke bedank wat ingespring het om bome tydens Boomplantmaand te plant.” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of skakel vir Chris Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings