Uitspraak in AfriForum-saak oor Unisa-taalbeleid reuseoorwinning vir Afrikaans
Die uitspraak van die Konstitusionele Hof vandag ten gunste van AfriForum in die saak vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), word deur AfriForum as ’n reuseoorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en ook taalregte in die land beskou.
Die saak is op 20 Mei 2021 deur dié hof aangehoor en uitspraak is voorbehou. Dit het gevolg nadat die Hoogste Hof van Appèl in 2020 ten gunste van AfriForum uitspraak gelewer het oor dié kwessie, met die bevinding dat Unisa se taalbeleid nie in ooreenstemming met grondwetlike voorskrifte aanvaar en geïmplementeer is nie.
Die Konstitusionele Hof het die Hoogste Hof van Appèl se bevinding dat Unisa se huidige taalbeleid wat slegs vir Engels as primêre medium van onderrig voorsiening maak, ongrondwetlik is, gehandhaaf, maar meer tyd toegelaat vir die implementering van die uitspraak. Die volledige uitspraak is tans nog nie beskikbaar nie, maar AfriForum het die grootste waardering vir die Konstitusionele Hof se standpuntinname oor studente se reg tot moedertaalonderrig.
Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die uitspraak ná ’n stryd van meer as vyf jaar, van reusebelang vir alle Afrikaanssprekende studente in die land, maar ook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.