Na ons toekoms met oë vol hoop
Deur Ronald Peters
Jong gesigte met oë vol hoop ontmoet my op ’n Vrydagmiddag by ’n familiehuis in Zambesi. Hierdie hoop word bevestig met die dankbaarheid wat deur die kinders se ouers tydens my besoek betuig word. Die rede hiervoor? ’n Eenvoudige skrywe aan Atletiek Suid-Afrika (ASA) rakende dié sportliggaam se irrasionele besluit om sekere ouderdomsgroepe by vanjaar se nasionale veldloopkampioenskappe uit te sluit. Ouers en skoolbesture glo dat hierdie skrywe wat AfriForum aan ASA gestuur het ’n wesenlike impak gehad het op die skielike ommekeer om alle ouderdomsgroepe tussen 8 en 49 jaar toe te laat om wél aan die kampioenskappe deel te neem.
Eenvoudige hulp wat só ’n groot impak in hierdie jongmense se lewens gemaak het, maar dié vraag bly by my: Hoekom was dit nodig?
Ons bevind onsself tans in ’n situasie waar die meerderheid sportliggame in Suid-Afrika wanfunksioneel en oneffektief is. Ons moet verstaan dat die voorgenoemde ’n wesenlike impak op die prestasie, ontwikkeling en toekoms van sport in ons land het. Kom ons gebruik ’n praktiese voorbeeld: ASA se oorspronklike besluit om slegs ouderdomsgroepe 17 tot 49 jaar toe te laat om aan hierdie jaarlikse kampioenskap deel te neem, sou individue en spesifiek kinders van die geleentheid ontneem het om hul harde werk wat deur die jaar ingesit is op die proef te stel en erkenning te kry vir hul deursettingsvermoë in hierdie moeilike tyd. Die emosionele impak wat dit op daardie kinders sou hê is meer as wat dikwels begryp word.
Ek luister onlangs na ’n bekende radiostasie waarop ’n geregistreerde sielkundige met die omroeper gesels oor depressie en die impak daarvan op die individu se lewe. Sy brei uit oor die impak wat die COVID-19-pandemie op kinders het en hoe depressiegetalle onder kinders drasties toegeneem het die afgelope twee jaar. Sy verduidelik dat mense nie noodwendig verstaan dat kinders die afgelope twee jaar met konstante verandering en verlies te doen gekry het nie en dat dit ’n groot impak op die algehele welstand van kinders het. Verlies in hierdie konteks verwys nie noodwendig na geliefdes wat aan die dood afgestaan is nie. Kinders het die laaste twee jaar verliese ervaar wanneer hulle nie by die skool tyd saam met maats kon bestee nie of nie hulle natuurlike talente kon ontwikkel nie, nie blootstelling aan sosiale interaksies ontvang het nie, nie te doen gehad het met konfliksituasies nie en die lys gaan aan. Al hierdie elemente – of eerder die afwesigheid daarvan – het ’n wesenlike impak op die ontwikkeling en groei van jongmense en daarom het ouers, skole en sportliggame ’n groot rol om te speel om genoegsame geleenthede te skep om hierdie “verliese” te beperk.
Ons sien tans geen leiding van sportliggame óf -federasies om onder huidige omstandighede geleenthede te beplan en af te skop wat jongmense die geleentheid gaan bied om steeds hul talente te ontwikkel en uit te leef nie, wat dit duidelik maak dat ons sélf verantwoordelikheid hiervoor sal moet neem. My ontmoeting met hierdie jongmense en die gevoel van hoop en dankbaarheid wat hulle uitgestraal het, het my wel weer van voor af gemotiveer dat daar wel groot waarde lê in wat ons doen en wat ons vir die nabye toekoms beplan.
Met AfriForum se sportafdeling wat verantwoordelikheid neem vir die toekoms van sport en die ontwikkeling daarvan in ons pragtige land, is ek realisties optimisties dat ons gemeenskappe en jongmense baie het om na uit te sien in terme van die skep van ’n toekoms vir jong sporttalent in Suid-Afrika. Hoe meer individue en organisasies inkoop en betrokke raak by die projekte wat ons aanpak, hoe groter sal die impak van hierdie projekte wees. Saam is ons verseker sterker.
Word deel van ’n sportgemeenskap wat saam bou. Word deel van AfriForum Sport.
Sluit vandag nog aan: https://afriforumsport.co.za/
Foto: Koos Venter (met toestemming van Rekord)