|

AfriForum gaan takke bemagtig om korrupsie te takel

Deur Alet Rademeyer

AfriForum gaan eersdaags ’n werkwinkel vir sy takbesture aanbied om hulle te bemagtig om korrupsie op plaaslike regeringsvlak uit te snuffel en aan die groot klok te hang.

Volgens Wico Swanepoel, regsadviseur: plaaslike korrupsie by AfriForum, doen korrupsie afbreek aan morele waardes en raak dit  almal in die gemeenskap. “Korrupsie ondermyn regsekerheid, dit skep wantroue in die oppergesag van die reg en is ook ’n teelaarde vir georganiseerde misdaad.

“Op plaaslike regeringsvlak is korrupsie ook vir swak dienslewering en die ineenstorting van infrastruktuur verantwoordelik. Belastingbetalers verdien beter en daarom gaan AfriForum sy takbesture bemagtig en inlig oor presies wat korrupsie is en hoe dit hokgeslaan kan word.”

Opleiding gaan op grondvlak gegee word oor wat korrupsie behels, hoe dit ontbloot kan word en die inligting wat nodig is vir suksesvolle vervolging, sê Swanepoel.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, gaan die opleiding gee.

Die opleiding sal tydens takvergaderings aangebied word vir lede en nielede. “Dit sal die publiek ook geleentheid gee om inligting oor korrupsie aan AfriForum deur te gee. Korrupsie raak ieder en elk van ons en daar rus ’n verpligting op almal om dit bekend te maak en hok te slaan.”

Onafhanklike navorsers en ekonome raam dat die land jaarliks tussen R30 miljard en R90 miljard aan korrupsie verloor.

Pres. Cyril Ramaphosa, het onlangs tydens sy eerste Staatsrede, erken dat korrupsie Suid-Afrika op talle terreine lamlê en dat dit tyd geword het om dit met mag en mening uit te roei.