|

Nuwe burgermeester wil Modimolle saam met AfriForum regruk

“Organisasies soos AfriForum gee vir mense hoop en hoop is baie belangrik vir die land se toekoms.”

Só meen Marlene van Staden, nuutverkose burgermeester van die Modimolle/Mookgopong plaaslike munisipaliteit. AfriForum het gister, in samewerking met dié munisipaliteit, sy Maand van Selfstandigheid-veldtog in Modimolle (Nylstroom) uitgerol en groot padveiligheidsakies in en om die dorp aangepak.

Dít kom nadat die burgerregte-organisasie verlede week deur Van Staden se kantoor genader is om ʼn plan van samewerking te beraam vir die dorp se swak padinfrastruktuur. AfriForum het toe onderneem om 100 stoptekens te skenk en dit met die hulp van munisipale werkers te plant.

Van Staden is in Augustus vanjaar verkies as burgermeester van dié saamgestelde munisipaliteit wat Modimolle (Nylstroom), Mookgopong (Naboomspruit), Vaalwater, Roedtan en Alma in Limpopo insluit.

Volgens Van Staden is sy nie bang vir die uitdaging om die eerste burgermeester van só groot gebied te wees nie. Sy het aan Forum Nuus gesê dat burgerregte-organisasies soos AfriForum ʼn belangrike rol in gemeenskappe speel en sy glo samewerking tussen die munisipaliteit en AfriForum sal ʼn groter impak op die dorpe kan hê.

Sy sê voorts dat sy besluit het om deel te wees van die burgerregte-organisasie se inisiatief omdat AfriForum op grondvlak met sy lede kommunikeer en dus werklik weet wat gemeenskappe se behoeftes is.

Sy meen dat munisipaliteite en hul burgermeesters nie altyd goed genoeg ingelig is nie en nie voorheen voorgekom het om toeganklik of bereikbaar te wees nie.

“My grootste doelwit vir my termyn is om werklik ʼn verskil te maak. Ek wil hê mense moet voel dat ek die gemeenskap eerste stel en dat hulle nie hoef te sukkel om in aanraking te kom met die munisipaliteit nie. Ek wil nie ʼn ontoeganglike burgermeester wees wat nooit gesien word nie.”

Volgens Van Staden is die munisipaliteit ook hard aan die werk om onder meer die water en krag probleme wat hul geërf het aan te pak deur te fokus op die opgradering van die dorp se waternetwerke. Wat elektrisiteit betref, is hul ook besig om die huishoudings wat tans nie toegang tot krag het nie te identifiseer en om ook aandag te gee aan die dorp se substasies.

“Wat ons krag- en waterkrisis nog meer uitdagend maak, is dat daar nie verlede jaar enigsins vir infrastruktuur-opgraderings begroot is nie. Daarom gee ons nou dringende aandag aan dié kwessies.”

AfriForum het reeds hul Maand van Selfstandigheid- veldtog, wat spruit uit hul 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog wat verlede jaar gehou is, in ander dorpe van stapel gestuur en gaan tydens dié projek ʼn totaal van R2 miljoen aan die munisipale padinfrastruktuur van dorpe met aktiewe AfriForum-takke bestee.

Volgens Hein Gonzales, AfriForum se projekwoordvoerder, het AfriForum besluit om die Maand van Selfstandigheid-veldtog aan te pak nadat hul in September vanjaar ’n veiligheidsoudit op munisipale paaie gedoen het.

Dié oudit het bevind dat sommige paaie nie aan die minimumvereistes voldoen wat in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit word nie.

Hy meen ook dat samewerking tussen die burgerregte-organisasie en munisipaliteite belangrik is om volhoubare en effektiewe oplossings te vind en te implementeer in plaaslike gemeenskappe. Die Maand van Selfstandigheid-veltog word tydens Oktober in dorpe landwyd uitgerol.

Luister hier na ’n onderhoud met Marlene van Staden.