UNIVERSITEIT SE TAALBELEIDE EN DIE TOEKOMS VAN AFRIKAANS
Die toekoms van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal bly ’n aktuele onderwerp – so ook die gebruik van ander inheemse tale vir onderrigdoeleindes. Omdat skole leerders moet voorberei op studies na afloop van hulle skoolloopbaan is dit ook belangrik dat personeel en ouers kennis neem van die debatte oor taalbeleide by tersiêre instellings.
Die feit dat die land een van die hoogste uitvalsyfers van skoliere en universiteitstudente het, met ander woorde mense wat skole en tersiêre instellings verlaat voordat ’n kwalifikasie behaal is, is ’n vername rede vir die hoë werkloosheidsyfer. Beide probleme kan onder meer aan die gebrek aan moedertaalonderrig toegeskryf word.
Wêreldwyd is bewys dat moedertaalonderrig direk tot beter akademiese prestasies bydra en dat dit gevolglik die betrokke land se ekonomie en indiensnemingsyfers positief beïnvloed. Tog hou owerhede vol om te skuil agter die verskoning dat meertalige onderrig “te duur” is en eentalige Engelse onderrig meer koste-effektief sal wees.
Een van die ander standaard verskonings vir die bevordering van eentalige onderrig, is dat “die studente in Engels wíl studeer”. Onderwysers en dosente is dikwels deeglik bewus van die voordele van moedertaalonderrig, maar vind dit nie nodig om ouers van leerder en studente, of die studente self hieroor in te lig nie. As opvoedkundige spesialiste dra hulle opinies gewig, en behoort hulle voorspraak vir moedertaalonderrig te doen.
Hierby sluit die wanopvatting aan dat Engels die deur oopsluit na internasionale sukses. Ouers hoef net te kyk na die sukses wat mense wat in Afrikaans gestudeer het, oral in die buiteland (én plaaslik!) behaal om te weet Engels is nie die enigste paspoort tot voorspoed nie – werksetiek, kundigheid en vele ander faktore weeg swaarder. Wat universiteitsbesture aanbetref, hulle glo ’n aanbod van Engelse onderrig gaan internasionale studente lok. Dit was ook ’n vername rede waarom Nederlandse universiteite blitssnel verengels het en nou met hulle hande in die hare sit omdat jong afgestudeerde Nederlanders toenemend in gebreke bly om dienste aan die Nederlandse bevolking te lewer. Verder kla dosente daar oor die studente se onvermoë om hulle in beide Nederlands en Engels professioneel uit te druk. Ongelukkig leer Suid-Afrikaanse universiteite nie by die voorbeelde nie en storm voort op die vernietigingspad.
Dit verstom my telkens om te sien hoe voormalige Afrikaanse universiteite steeds met groot ywer in Afrikaans adverteer wanneer inskrywings vir die volgende akademiese jaar open, maar nalaat om te noem dat kursusse nie in Afrikaans beskikbaar gaan wees nie. Ouers en leerders moet hulle vergewis van die taal waarin onderrig gaan plaasvind voordat hulle aansoek doen om aan ‘n bepaalde instelling te gaan studeer, en onderwysers kan ’n belangrike rol speel om hulle in dié verband in te lig.
Privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech raak eilande van hoop vir die oorlewing van Afrikaans as tersiêre onderrig- en vaktaal. Dit beteken egter nie ons moet die verantwoordelikheid van Afrikaanse onderrig net aan die privaatsektor oorlaat nie. Ons moet steeds voortgaan om wanpraktyke soos die sake wat tans by die Universiteit van Stellenbosch (US) aan die kaak gestel is, te ontbloot en teen te staan. Privaatinstellings se ontwikkeling en landwye voetspoor groei te stadig om alle potensiële studente nou al te akkommodeer en totdat dit moontlik is, is daar baie studente wat geen ander opsie sal hê as om in Engels te studeer, tensy ons ook vir hulle regte voorspraak maak nie.
Waarskynlik gaan verskeie universiteite binnekort hulle taalbeleide hersien. Die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Instellings vir Hoër Onderwys wat in 2020 aanvaar is, vereis gereelde hersiening. US het reeds met hierdie proses begin. Ten spyte van AfriForum se ervaring in die verlede dat openbare raadplegingprosesse van instellings dikwels maar oëverblindery is om voorafopgestelde beleide deur te druk, is dit noodsaaklik dat organisasies soos AfriForum en die publiek aan hierdie konsultasies deelneem. Ons moet ons verpligting om ons taalregte op te eis, nakom.
Terselfdertyd moet ons ook belê in instellings wat hulle onomwonde tot Afrikaanse moedertaalonderrig verbind en hulle daadwerklik beskerm teen druk om te verengels. Maklik was dit nog nooit nie, maar die koste om bloot aan verengelsing toe te gee, is net té hoog vir individue en gemeenskappe om dit nie te doen nie.