SEB BEMAGTIG NIE SWART MENSE NIE, MAAR EERDER VRIENDE VAN DIE ANC
Deur Andrea van Wyk
Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is moreel bankrot. Dit benadeel almal in die land behalwe diegene met politieke bande se beursies en hulle wat deur die ideologie bedwelm is, sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.
Roets het Woensdagaand in Melrose Arch, Johannesburg, gepraat tydens ’n paneelbespreking van die Black Management Forum (BMF) se Sandton-tak oor die feit dat die SEB-beleid nie suksesvol daarin was om swart ondernemings te bemagtig of om Suid-Afrika te transformeer nie.
Die bespreking is gefasiliteer deur dr. Sibongile Vilakazi, voorsitter van die BMF se Sandton-tak. Die ander sprekers was Mzwanele Manyi, voormalige president van die BMF, Duma Gqubule, direkteur van die sentrum vir ekonomiese ontwikkeling en transformasie en Zodwa Ntuli, SEB-kommissaris.
Volgens Roets is SEB semantiese bedrog. “Dit het niks te doen met bemagtiging nie en dit het baie min te doen met swart mense. Dit is ’n beleid wat vernietigend en immoreel is. Dit is vernietigend omdat die fokus nie op produksie is of om die ekonomie te laat groei nie, maar eenvoudig op die herverspreiding van geleenthede op ’n rasse-grondslag.”
Hy sê regstellende aksie, die beleidsraamwerk waarop SEB gegrond is, is daarop gemik om afhanklikheid van die regering te kweek. Dit veroorsaak dat veral swart mense afhanklik is van die regering en dít is juis die teenoorgestelde van bemagtiging.
Beide Manyi en Gqubule het saamgestem dat SEB nie tot dusvêr swart mense werklik bemagtig het nie. Albei sê egter dat die terme, voorwaardes en fynskrif van die beleid dringend hersien en reggestel moet word om ’n soort werkersrewolusie te voorkom. Hulle is dus ten gunste van ’n nuwe tipe SEB of ’n plaasvervanger daarvoor, in plaas van die totale wegdoening daarvan.
Volgens Manyi het swart mense se probleme reeds begin met die aankoms van Europeërs in Suid-Afrika. “Swart emansipasie is ’n ou reis om te herstel van wat kolonialisme en apartheid gedoen het. Ons het ’n ryk geskiedenis van hoe ons probeer om onsself te bemagtig. SEB was daar, maar dit was nie reg gestruktureer nie. Die beleid is doodgemaak weens afknouery deur die banke en myne.”
Manyi sê dít wat swart mense in die steek gelaat het, is die politieke omgewing. “Ons het gedink ons het ’n regering wat ons probleme ken, maar hulle het ons gefaal. Sodra sekere maatskappye SEB-status bereik, het hulle nie meer swart mense nodig nie. Die regering het veroorsaak dat swart mense nie bemarkbaar is nie.”
Intussen het prof. Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer, Woensdagaand die hoofrede gelewer by die jaarlikse Nadine Gordimer-lesing by die Universiteit van die Witwatersrand, waar sy ook oor SEB gepraat het.
Luidens berigte het Madonsela gesê dat die beleid, wat veronderstel is om die ongeregtighede van apartheid aan te spreek, tot dusvêr baie min gedoen het vir sy begunstigdes. Sy het onder meer gesê dat SEB nie “die regte ding was nie” en dat dit wegvreet aan beide swart en wit klein ondernemings. Madonsela het bygevoeg dat SEB wit oorheersing versterk het eerder as om dit te ondermyn.
Ernst van Zyl, veldtogbeampte by AfriForum, sê die probleem van werkloosheid in Suid-Afrika is soos ’n boom wat nie soveel vrugte dra soos wat dit behoort nie. “Daar kan vele redes daarvoor wees. Deur swart werkloosheid te probeer oplos deur SEB-beleid, is soos om na die boom te kyk, dit vol plastiek vrugte te laai en dan te verklaar dat jy die probleem opgelos het.”
Roets sê SEB gaan nie daaroor om swart mense te bemagtig nie, maar om die vriende van die ANC te bemagtig.