OPENBARE VERHORE OOR WYSIGINGSWETSONTWERP OOR ONTEIENING: GAAN MAAK BESWAAR!
Deur Alet Rademeyer
Die openbare verhore oor die Wysigingswetsontwerp op Onteiening (B23 van 2020) vind nou in verskillende provinsies plaas.
Dié wysigingswetsontwerp sal die huidige Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) vervang.
AfriForum doen ’n dringende beroep op sy lede en op die publiek om die verhore in die onderskeie provinsies by te woon en dit teen te staan.
Die verhore vind vanaf 22 – 25 April in Noordwes plaas, vanaf 6 – 9 Mei in Gauteng, 13 – 16 Mei in die Vrystaat, 20 – 23 Mei in KwaZulu-Natal, 3 – 6 Junie in die Oos-Kaap, 10 – 13 Junie in die Noord-Kaap en 17 – 20 Junie in die Wes-Kaap.
Hierdie verhore is vir die wetgewing wat dit duidelik sal maak hoe onteiening sal werk, onder watter omstandighede dit gedoen kan word en onder watter omstandighede ’n hof mag bepaal dat nulvergoeding betaal mag word wanneer grond vir openbare werke en infrastruktuur onteien word.
Dit is ’n afsonderlike proses van die een wat handel oor die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Wat laasgenoemde proses betref, is ’n samevattende verslag verlede week deur die ad hoc-komitee gemoeid met die wysiging van Artikel 25 aanvaar.
Meer as 204 000 voorleggings en insette is van die publiek, burgerlike organisasies, georganiseerde landbou en ekonome gekry.
Die finale sperdatum vir insette was 20 Februarie 2021 en AfriForum het ook aan die proses deelgeneem.
Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die organisasie het herhaaldelik uitgewys waarom onteiening sonder vergoeding ongrondwetlik is. “Daar is talle voorbeelde van korrupsie wat pogings tot grondhervorming in die wiele gery het. Slegs 6,3% van grond wat die staat aangekoop het, is tot op hede in privaat eienaarskap oorgedra. Daarbenewens het meer as 90% van mense wat grondeiese ingedien het, aangedui dat hulle eerder geld in plaas van landbougrond wil hê.”
Die ekonoom dr. Roelof Botha meen indien onteiening sonder vergoeding aanvaar word, sal dit die einde van die land beteken. Volgens hom het baie lande ’n hoë prys betaal deur ’n beleid van onteiening sonder vergoeding in te stel. Só ’n beleid skrik beleggers af.
Opposisiepartye is dit eens dat die nuwe voorgestelde onteieningswet die wese van eiendomsreg in die land sal aantas. Dit is nie net grond wat hierdeur geraak word nie, maar alle private eiendom, roerend en onroerend, en selfs intellektuele eiendom.
Dr. Mathole Motshega, voorsitter van die ad hoc-komitee, het luidens mediaberigte gesê hoewel die verslag nou aanvaar is, begin die werklike werk oor wat die wysigingswetsontwerp moet bevat nou eers. Komiteelede het tot vroeg Mei tyd om met hul politieke partye te konsulteer oor die wysigingswetgewing en die verslag, voor met inspraak op die teks van die wysigingswetsontwerp begin word.
Die werk van die komitee moet teen 21 Mei 2021 afgehandel wees.