|

AfriForum dien klagtes in weens R92 miljoen-wanbesteding deur Noord-Kaapse departement

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat op Maandag, 18 April afgeskop het – ’n strafregtelike klag ingedien teen Gugulethu Matlaopane, hoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid.

Dít volg nadat die organisasie die departement se jaarverslag ontleed het en bevind het dat Matlaopane ingevolge artikel 86 (1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 versuim het om sy pligte na te kom.

Die klag teen Matlaopane is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge bogenoemde Wet. Departementshoofde is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou.

Die jaarverslag van die provinsie se departement van gesondheid toon dat dié departement ongemagtigde uitgawes van R92 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het.

“Ongemagtigde uitgawes is uitgawes deur departemente wat nie in ooreenstemming met die goedgekeurde begroting bestee is nie. Matlaopane het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om haar verantwoordelikhede na te kom,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

Mnr. Nontsikelelo Jack, LUR vir gesondheid in die Noord-Kaap, het kort na sy aanstelling in November verlede jaar, ook ʼn ondersoek na die departement se finansiële sake gelas nadat dit bekend gemaak is dat die departement 12 jaar laas ʼn skoon oudit gekry het.

Luidens mediaberigte het hy bevind dat diensverskaffers regdeur die provinsie met amptenare saamgesweer het en onnodige onkostes van miljoene rande aangegaan het. Hy het ook gesê dat die ouditeur-generaal (OG) se verslag swak voorsieningskettingbestuur en gevalle van wanbesteding uitgelig het as die hoofredes vir die departement se wanprestasies. Agt amptenare is betrek by 360 gevalle van bedrog. Hulle is afgedank hangende ʼn ondersoek.

AfriForum is van mening dat die wanbesteding van belastingbetalers se geld ʼn nasionale krisis is en gaan die veldtog in Junie met ʼn fase 2-projek voortsit wanneer stappe teen munisipaliteite gedoen sal word om hulle te verplig om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes in te vorder.

Die organisasie gaan namens sy takke in die verskeie provinsies ʼn versoek aan die verskillende LUR’e vir finansies rig om alle inligting te verskaf oor die stappe wat hulle teen munisipale raadslede en amptenare doen om geld vir onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes in te vorder. Munisipaliteite moet ook aandui wie die oortreders is en watter stappe gedoen word om die geld in te vorder, soos wetgewing van hul vereis om te doen.

AfriForum wil die publiek ook aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.