Selfdood – Deel 1
Deur Gerhard Nieuwoudt – Distrikskoordineerder by AfriFroum
Selfdood is só ’n ingewikkelde saak dat daar myns insiens nie genoeg in die politiek, skole, fokusgroepe, gesinne en die media daaroor gepraat word nie. In my ervaring is die enigste mense wat selfdood bespreek daardie mense wat die trauma wat dit skep eerstehands ervaar het. Op daardie stadium is dit dikwels te laat om die skade te beperk wat reeds aangerig is. Mense blyk ongemaklik en kwesbaar te wees om hul negatiewe gedagtes met ander te deel. Die doel van hierdie blog is dus om mense se gedagtes te prikkel om te bepaal of hulle hul diep emosies met ander bespreek of eerder weerhou; of hulle opregte pogings aanwend om hul emosionele welstand met hul vriende, kollegas of familie te bespreek.
Wat is selfdood? Selfdood is die handeling of daad van jouself om die lewe bring – dus om jou eie lewe te neem. (Die term selfdood word deesdae al hoe meer verkies weens die stigma wat aan die woord moord kleef.)
Wêreldselfdoodvoorkomingsdag word op 10 September herdenk ter bevordering van wêreldwye toewyding en optrede om selfdood te voorkom. Gemiddeld pleeg bykans 3 000 mense daagliks selfdood, of ongeveer een miljoen mense per jaar. Elke 40 sekondes word die lewens van vriende en familie geskaad weens die verlies van iemand wat hulself om die lewe gebring het. Vir dié familie en vriende kan die emosionele impak baie jare duur.
Die koms van die internet en slimfone het nie net sosiale interaksie verbeter nie, maar dra ook by tot die benadeling van die geestesgesondheid van sommige kwesbare jongmense. Kommerwekkende statistieke toon dat selfdood die tweede hoofoorsaak van sterftes is in die ouderdomsgroep 5–19 jaar. Een uit vyf jongmense probeer hul eie lewens neem. Boonop is die ouderdomsgroep 10–19 jaar een van die hoogste risikogroepe vir selfdood. Volgens ’n onlangse studie is kinders en jongmense jonger as 25 wat slagoffers van kuberafknouery is meer as twee keer geneig om selfdood te oorweeg.
Ek was deel van ’n studie deur die Universiteite van Oxford en Birmingham wat 21 jaar lank meer as 150 000 kinders en jongmense in 30 lande bestudeer het.
’n Belangrike sleutelaanbeveling wat gemaak is, is dat selfdoodvoorkoming en -intervensie noodsaaklik is in enige omvattende teenboelieprogram. Dit moet ook ’n hele skoolbenadering behels, wat bewusmaking en opleiding vir personeel en leerders insluit.
Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Daar is ’n uitweg; daar is hoop. Daar is ook hulp beskikbaar. Hoe meer ons openlik oor selfdood praat, hoe makliker en vinniger gaan ons die stigma daarom vernietig.
Ek gesels in my volgende inskrywing bietjie meer oor die redes waarom mense hul eie lewens wil neem.