|

Hoe staan ek familielede by wat deur geweldsmisdaad geraak is?

Deur Hennie Human

Die familie- en gesinstruktuur is veronderstel om vir kinders en volwassenes ’n veilige hawe te wees. Dit is die plek waar ons moet ervaar dat mense vir jou omgee, dat jy behoort en gereken word.

Ervaring leer dat slagoffers van misdaad, veral geweldsmisdaad, in hierdie donker tyd juis uitreik na hulle familie vir ondersteuning. In omstandighede waar jy fisiek en emosioneel verrinneweer is, soek jy iemand wat jy kan vertrou, wat jou verstaan en jou liefde en deernis sal gee.

Vir familielede bied dit soms uitdagings om geliefdes wat geweldsmisdaad beleef het, te ondersteun. Aan die een kant worstel hulle met hulle eie gevoelens oor die misdaad en aan die ander kant ontbreek kennis en ervaring oor wat om te doen en te sê.

Familielede wat ondersteuning bied aan geliefdes wat deur geweldsmisdaad geraak is, moet die volgende in gedagte hou:

  1. Wees bedag op die effek van geweldsmisdaad

Gewoonlik is familielede geskok en kan hulle nie glo in watter toestand hulle geliefdes is nie. Hulle word totaal onkant betrap deur die effek van geweld. Liggaamlik kan hulle geliefdes ernstige wonde en kneusmerke hê, ’n gesig wat opgeswel is, wurgmerke, en in ’n plek gevind word wat met bloed besmeer is. Emosioneel kan die geliefde huilerig wees, in ’n toestand van skok verkeer, verward wees, onsamehangend praat, sekere gebeure nie onthou nie, vrees en angstigheid ervaar en soms net sit en staar.

Wees voorberei dat wanneer aggressie en geweld in die misdaad gebruik is, die trauma en effek van die misdaad soveel erger en intens is. Slagoffers van geweldsmisdade beleef baie hoë vlakke van angs en vrees omdat dat dit lewensbedreigend is. Die trauma is soveel erger as ’n persoon dood is. Geweld en aggressie manifesteer in geweldsmisdade soos verkragting, roof, gesinsgeweld, moord, sluipmoord, kaping en plaasmoorde.

Wees bewus daarvan dat die trauma ook kan lei tot gedragsverandering en verandering in slaappatrone en eetgewoontes.

Die gebeure het ook ’n effek op die familielede as “tweede slagoffers”. Alhoewel hulle nie direk by die gebeure betrokke was nie, moet familielede wat ondersteuning bied, besef dat hulle ook getraumatiseer word deur dit wat hulle sien en hoor.

Verstaan dat die stand van sake deur ’n proses van ondersteuning, geduld en volharding omgekeer word en dat familielede ook ondersteuning en soms berading nodig het om hulle eie trauma en die effek van die gebeure te kan verwerk.

  1. Beheer jou emosies en reaksies

Die familielede wat sinvolle ondersteuning aan ’n geliefde wil bied, moet besef dat hulle reaksie op die gebeure moet bydra om die geliefde te help om weer selfbeheer te kry – die gevoel van krag en beheer wat deur die geweldsmisdaad weggeneem is.

Die volgende reaksies, wat soms as “natuurlik” beskryf word, moet liefs vermy word:

  • Uiting van eie aggressie/woede voor die slagoffer.
  • Uiting van wraakuitsprake.
  • Uiting van eie skok en afkeer.
  • Blameer van die slagoffer, byvoorbeeld: “Ons sê al lankal julle moet julle veiligheid opskerp”.
  • Jou eie weergawe van die gebeure gee.
  • Hoekom-vrae aan die slagoffer stel.
  • Veroordelend wees.
  • Inmeng met die ondersoek en die werk van ander professionele persone.

Deur jou eie emosies te beheer, bring jy kalmte en rustigheid by die slagoffers en kry hulle die gevoel dat hulle weer beheer oor hulle omstandighede verkry. ’n Uitbarsting van emosies plaas groter emosionele druk op die slagoffers en kan hulle reeds hoë vlakke van angs en vrees verhoog.

  1. Sinvolle en effektiewe ondersteuning deur familielede

Die doelwit van ondersteuning moet altyd wees om die angs- en vreesvlakke van die slagoffer te verlaag, hoop te skep en die persoon te help om weer beheer te kry. Daarom moet die ondersteuner kalm, beheersd en met empatie optree.

Die doelwit kan bereik word deur die volgende aksies:

  • Skep ’n veilige omgewing vir die slagoffers en maak seker dat hulle fisies versorg is.
  • Help met die voorsiening van verblyf, indien nodig.
  • Neem tydelik verantwoordelikhede van die slagoffers weg, soos huishoudelike take.
  • Bied ondersteuning wanneer daar mediese ondersoeke en behandeling gekry moet word.
  • Help met die versorging en ondersteuning van kinders en ander afhanklikes.
  • Gee ondersteuning om huislike omstandighede te normaliseer.
  • Luister met empatie en deernis.
  • Help met die versorging van diere.
  • Bied hulp aan om professionele hulp te bekom, indien nodig.
  • Werk saam met al die rolspelers in die ondersteuningsnetwerk.

Familie is onontbeerlik vir genesing en skep hoop vir geliefdes wat deur geweldsmisdaad geraak is!

* Hennie Human is ’n slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Traumaondersteuningseenheid.

Soortgelyke plasings