AfriForum eis antwoorde by owerhede oor repatriasie-chaos op grense
AfriForum eis antwoorde by al die betrokke staatsdepartemente, insluitend die Departement van Binnelandse Sake en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO), oor die verwarring wat tans heers met betrekking tot die terugkeer van Suid-Afrikaners uit buurlande.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is honderde mense sedert die COVID-19-inperkingsmaatreëls vanjaar wêreldwyd in werking gestel is en wat die sluiting van internasionale grense tot gevolg gehad het, in buurlande soos Namibië en Mosambiek gestrand. Hoewel hulle die vermoë het om self terug te reis, word daar van hulle vereis om vir ongespesifiseerde tye en redes buite die grense te bly wag. Wanneer hulle uiteindelik ingelig word dat hulle mag terugkeer, word die reëlings dikwels op kort kennisgewing, sonder verduideliking, onbepaald uitgestel, wat onhoubare spanning vir die mense en hulle geliefdes in Suid-Afrika tot gevolg het en groot uitdagings aan hulle hulpbronne stel.
Selfs wanneer die terugreise uiteindelik voortgaan, verloop dinge nie noodwendig glad nie. Die jongste voorbeeld is ’n groep Suid-Afrikaners wat op 31 Mei 2020 deur Namibië na Suid-Afrika moes terugkeer. Van hulle het al voor sonop vertrek om betyds by die grenspos te wees. Die groep sluit bejaardes en mense met ernstige gesondheidstoestande in. Hulle is omstreeks 16:00 by die grenspos deur die Suid-Afrikaanse beamptes ingelig dat die grenspos geen kennis van hulle dra nie. Ten spyte daarvan dat die groep bewyse van alle reëlings, asook steun van die Namibiese owerhede, die personeel van die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Windhoek en selfs die kwarantynfasiliteit in Suid-Afrika kon toon, is hulle eers ná 21:00 geprosesseer en het hulle om ongeveer middernag by die kwarantynfasiliteit aangekom.
Terwyl die tragiese rompslomp aan die gang was, wag nog honderde mense in buurlande vir hul beurt om terug te mag ry, en nog duisende meer vir vlugte uit die res van die wêreld na Suid-Afrika.
“Gister se gebeure is, soos verskeie ander voorvalle die afgelope meer as twee maande, onaanvaarbaar. Hier is ’n groep kwesbare mense in gevaar gestel om laatnag, wanneer hulle uitgeput en gespanne is, lang afstande te ry. Ná al die tyd sou ’n mens verwag dat kommunikasie beter verloop, maar die probleme waarmee terugkerendes in Maart te kampe gehad het, herhaal steeds,” sê Bailey.
“Wat die frustrasie vererger, is dat blaam dikwels rondgeskuif word tussen al die staatsdepartemente en selfs al die lande se owerhede wat by elke repatriasieproses betrokke is. Van die personeel in buitelandse missies, ekspat-groepe en selfs kerke probeer die gestrandes help en ons loof hulle vir hul bystand. Om egter deurgaans met swak kommunikasie te probeer beplan vir die terugkeer na die land, en ook nog werkgewers, kliënte, onderwys- en ander instellings en individue wat op jou terugkeer wag, tevrede te hou, raak ’n onmoontlike situasie om te bestuur. Mense raak desperaat. Die verantwoordelike owerhede moet aanspreeklikheid aanvaar en die situasie beter bestuur. AfriForum hoop om binnekort in die hof te wees met regsaksie in die verband.”