AfriForum se Bloemhof-tak bring verligting vir behoeftiges
Die AfriForum-tak in Bloemhof se wintersopprojek is op 26 Mei 2020 van stapel gestuur. Altesaam 50 etes is reeds aan behoeftiges uitgedeel. Elke gesin het ook ’n kombers ontvang.
Die tak se bestuurslede het elke persoon se temperatuur geneem voor hulle geëet het. Jan Chef, ’n bekende uit die gemeenskap, het drie groot potte sop gekook en 70 vetkoeke gebak. Die tak beplan om onbepaald voort te gaan om daagliks etes beskikbaar te stel.
“Die COVID-19-pandemie het grootskaalse werkloosheid veroorsaak, wat gepaardgaan met hongersnood. Mense kry swaar en AfriForum sal alles in ons vermoë doen om ons mense by te staan en te ondersteun in hierdie moeilike tyd,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Die tak bedank graag die Hope Foundation vir die gebruik van hul fasiliteite – hulle sal voortaan die etes daagliks voorberei met ondersteuning vanuit die gemeenskap.
“AfriForum se Bloemhof-tak sal waar moontlik organisasies ondersteun wat vir ons mense in hierdie moeilike tye voorsien,” sluit Nieuwoudt af.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45351 (R1).