Covid-19 moet meer verantwoordelik bestry word – Ernst Roets
In een van sy dialoë beskryf Plato ’n tweegesprek tussen Sokrates en die professionele rapsodis, Ion. Ion het sopas ’n voordragkompetisie gewen en sy selfbeeld is sterk. Hy spesialiseer in voordrag oor Homerus en hy beweer dat hy Homerus beter ken as enige ander mens wat leef. Ion maak die stelling dat hy, vanweë sy studies in Homerus dieselfde kennis en vaardighede as Homerus het. Hy beweer verder dat sy vermoë om paragrawe wat oor militêre aangeleenthede voor te dra hom ’n bekwame militêre generaal maak. Sokrates reageer hierop deur ’n reeks kritiese vrae aan Ion te stel, waarna Ion uiteindelik toegee dat hy sy vermoë om Homerus voor te dra nie beteken dat hy Homerus se kennis het nie.
Dié klassieke storie herinner aan die meer moderne konsep wat vandag as die Dunning-Kruger effek bekendstaan. Die Dunning-Kruger effek is min of meer wat gebeur wanneer ’n persoon basiese kennis oor ’n sekere onderwerp opdoen en dan met groot selfvertroue daaroor praat, salig onbewus van sy eie gebrek aan kennis.
Dit bring my by Covid-19 en die reaksie daarop. Die tema is op almal se lippe en mense is verbete op soek na inligting. Net soos Ion van ouds blyk dit dat mense wat geen professionele kennis of opleiding oor die onderwerp het nie hulleself skielik as kenners beskou.
Die probleem hiermee is dat die krisis multidimensioneel is, terwyl waarskynlik die meeste mense – en ook baie regeringsleiers – eendimensioneel daarna kyk. Om byvoorbeeld ’n taamlik ingeligte opinie oor die aard en omvang van Covid-19 te hê is nie voldoende om maatreëls voor te stel oor wat gedoen moet word om die virus te beveg nie. Oplossings moet ook begrip toon vir wat die gevolge daarvan op ander terreine sal wees. Dit sluit die ekonomie, gemeenskapsveiligheid, onderwys en burgerregte in.
Dieselfde geld vir mense wat luidrugtige opinies op sosiale media uitspreek – veral wanneer die verlenging van die staat van inperking en die regulasies wat daarmee gepaard gaan onvoorwaardelik ondersteun word. In hierdie verband is daar nog iets wat nie uit die oog verloor moet word nie – die regerende party se ideologie en strategiese doelwitte.
Die ANC maak geen geheim van die feit dat die party beoog om ’n nasionale demokratiese rewolusie uit te voer nie. Om dit te doen, sê die ANC, beoog hulle om beheer oor die “magshefbome” soos hulle dit noem te kry, ten einde Suid-Afrika op die pad van sosialisme te plaas. Die ANC is instinktief ten gunste van meer mag vir die regering en minder vryheid vir die mense. Die groter risiko hier is dus die versoeking waarin die regering gaan wees om, wanneer die krisis verby is, slegs ten dele afstand te doen van die mag wat hy nou in homself vestig.
Om drasties in te gryp om die verspreiding van die virus te beperk is nie sinvol as daar nie rekening gehou word met wat die gevolge van hierdie maatreëls op ander terreine gaan wees nie. So wys ekonome uit dat die staat van inperking drastiese gevolge vir die ekonomie gaan inhou. Dawie Roodt wys daarop dat ekonomiese inkrimping beteken dat mense nie meer kos op die tafel kan sit nie en dat armoede tot meer sterftes kan lei. Sy skatting is dat soveel as 300 000 mense as gevolg van ekonomiese inkrimping in Suid-Afrika kan sterf.
Dit is egter makliker om oor sterftes weens die koronavirus te praat as oor sterftes as gevolg van ekonomiese inkrimping. Mense beskou die virus as ’n werklikheid, terwyl die ekonomie as ’n abstrakte konsep beskou word.
’n Peiling wat voor die verlenging van die staat van inperking deur sme.africa en Sasfin onder ’n paar duisend klein en medium sakeondernemings gedoen is, het bevind dat 62% van besigheidseienaars baie bekommerd oor die voortbestaan van hul ondernemings is (4% het reeds hul besighede gesluit) en dat 53% waarskynlik binnekort mense gaan aflê (7% het dit reeds gedoen).
Dieselfde geld vir die veiligheidsituasie. Een van die grootste absurditeite van die huidige staat van inperking is dat mense nie in georganiseerde buurtwagte na hul eie veiligheid mag omsien nie (AfriForum is besig om hierdie kwessie met die minister van polisie op te neem).
Ons moet dus nie die fout maak om, soos Ion van ouds, te aanvaar dat iemand wat na ’n mediese doktor, óf na ’n ekonoom, óf na ’n prokureur geluister het ’n ingeligte opinie het en ’n verantwoordelike oplossing kan voorlê nie. Dit geld vir gewone mense, maar dit geld soveel meer vir die regering. In tye soos hierdie moet ons meer krities oor die regering se optrede wees. Dit geld ook soveel meer vir ’n regering wat nou besig is om mag ingrypend in homself te sentraliseer terwyl hy al vir dekades lank in sy beleidsdokumente sê dat sy uiteindelike doel is om presies dit te doen.
Ernst Roets
Ernst is hoof van beleid en aksie by AfriForum
Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets