Die verhaal van Oupa, troubreuk en uithouritte
Johan du Toit, ’n AfriForum-lid van Pretoria, het onlangs vir ons ’n roerende familiestorie gestuur. Hy skryf:
My lewe lank het ek die behoefte aan ’n perd gehad. En ook gedroom om baie ver met ’n perd, mý perd te kan ry. Op die vroeë ouderdom van 40 jaar het ek leer perdry en aan uithouritte begin deelneem.
Só kom ek op die plaas Moolmanshoek (tussen Rosendal en Ficksburg) in die Malutiberge in die Oos-Vrystaat aan en teen die hange van Visierskerf koop ek my eerste uithouritperd Moolmanshoek Shadow.
Met ons eerste Fauresmith-uithourit (205 km oor drie dae) kom kyk my bejaarde ouers hoe dit met die rit gaan. Dag een se eerste stop is op die plaas Metz.
My ma vertel my die verhaal van my oupa Nicolas Johannes du Toit wat net so ver kon perdry en op die plaas Metz geboer het. Sy vra: “My kind, weet jy waar kom die boereliedjie ‘Die blink vosperd’ vandaan?”
O, ek het ’n perd, ’n blink vosperd met ’n splinternuwe saal/
en ek klim op my perd, my blink vosperd, en ek kom om jou te haal/
Want jy’t gesê as ek jou wil hê dan moet ek jou kom haal/
op ’n mooi ryperd, ’n blink vosperd, met ’n splinternuwe saal/
op ’n mooi ryperd, ’n blink vosperd, met ’n splinternuwe saal.
Ma vertel dat Oupa saam met sy pa in die Anglo-Boereoorlog geveg het. Hulle is gevange geneem en na Indië gestuur as krygsgevangenes. Maar Oupa het rumatiekkoors gekry en kon nie gedeporteer word nie. Hy beland by Norvalspont in die konsentrasiekamp vir vroue en kinders. Hy is daar gelos omdat daar elke dag ’n begrafnis was en hy dit waarskynlik nie deur die nag sou maak nie.
Een van die dames wat hom met toewyding verpleeg, versorg en deurgetrek het, was Sarie Fourie van die plaas Kransfontein, naby Sheridan in die Fouriesburg-distrik.
Voor Oupa behoorlik kon herstel, word vrede gesluit en die oorlog is verby. Sarie Fourie gaan terug na haar mense in Fouriesburg en hy keer terug Fauresmith/Koffiefontein toe.
Op ’n dag kry hy ’n troukaartjie waarin Sarie hom uitnooi na haar huweliksbevestiging met ene Badenhorst. Net daar besef hy dat sy nie met ’n ander man kan trou nie, want sy is vir hom bedoel.
Hy saal sy perd op en swak soos hy was, ry hy vanaf Fauresmith tot by sy neef op die plaas Smalfontein by Rosendal, ’n afstand van ongeveer 346 km op vandag se paaie. Teen hierdie tyd is hy omtrent so swak soos sy uitgeputte perd, maar hy druk deur. Hy leen by sy neef ’n vars perd en ry oor die berg by Visierskerf (waar Moolmanshoek vandag is).
Op Kransfontein was Sarie natuurlik baie verbaas om hom te sien, maar dit het nie baie oortuiging gekos om haar te laat besef dat hulle vir mekaar bedoel is nie. “Want jy het gesê as ek jou wil hê dan moet ek jou kom haal.”
Sarie verbreek toe op hierdie laat stadium haar verlowing met Badenhorst, wat haar in geregverdigde gramskap vir troubreuk dagvaar en sy moet 25 sakke koring vir skadevergoeding opdok. Oupa het dit met ’n glimlag betaal en hulle is op 1 Junie 1906 getroud.
Aanvanklik het hulle op Bothashoop digby Fauresmith gebly, maar verhuis later na haar familiegrond by Fouriesburg waar sewe kinders gebore is.
Drie van hulle was al uit die huis uit toe Oupa op redelike vroeë ouderdom oorlede is weens die nagevolge van die oorlog se rumatiekkoors.
Ek en my perd Moolmanshoek Shadow het intussen al vier Fauresmith-uithouritte aangepak en meer as 3 000 km se uithouritte voltooi.
Dit het my geleer dat ’n mens nooit jou drome moet laat vaar nie. Dit maak nie saak hoe swaar die omstandighede is nie, daar is altyd hoop.