| | |

COVID-19: Daar ís silwer randjies

Dr. Eugene Brink, strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum

Daar is geen twyfel nie dat COVID-19 (die koronavirus) vele negatiewe gevolge vir die hele Suid-Afrika en die wêreld inhou. Daar gaan ingrypende gevolge vir die globale bruto binnelandse produk in 2020 hê en kan tot ’n verlies van 1 miljoen werksgeleenthede in Suid-Afrika lei. Honderde mense in dié land is reeds geïnfekteer en oral neem ekonomiese aktiwiteit af namate mense van die huis af begin werk en minder tyd en geld in winkels bestee.

Dit is ’n daadwerklike gesondheids- en ekonomiese bedreiging, en AfriForum en die hele Solidariteit Beweging bied op verskeie vlakke hulp aan gemeenskappe, individue en die sakesektor om die impak daarvan te versag.

Tussendeur al die donker wolke is daar egter darem ’n paar silwer randjies ook. Lesetja Kgyanyago en sy span by die Suid-Afrikaanse Reserwebank was oor die laaste paar jaar baie versigtig met die rentekoerse – ondanks inflasie (wat stewig onder beheer is) en ’n baie pap ekonomie. Uit vrees vir die verkeerde politieke seine wat groot rentekoersverlagings kan uitstuur, was hulle behoedsaam om groot verlagings toe te staan. Hierdie strategie was myns insiens wys, al sou die ekonomie veel meer by groter verlagings kon baat vind.

Hierdie “valkagtigheid” het hulle egter die ruimte gegun om onlangs die rentekoers met 100 basispunte te verlaag, terwyl die konsensus was dat hulle dit met 50 basispunte sou verlaag. Dit is inderdaad ’n reuseverlaging en sal maandeliks honderde of duisende rande in die sakke van huiseienaars en diegene met ander skuld terugsit. Helaas benadeel dit pensioentrekkers en spaarders, maar die ekonomie het só ’n hupstoot nou nodig – en rentekoers sal ook weer styg.

Rentekoerse is nie die allerantwoord op Suid-Afrika se huidige en toekomstige ekonomiese probleme nie, maar dit bring ten minste tydelike verligting vir beleërde gesinne, gemeenskappe en individue. Sodra mense weer met oorgawe kan bestee, gaan dit help om vir verlore besteding te vergoed.

Die olieprys – en by implikasie die brandstofprys – is die ander ligpunt in hierdie tyd. Internasionale oliepryse is besig om te val soos produksie en aanbod houe vat weens onder meer verminderde lugverkeer. Selfs die rand se relatiewe verswakking sal nie ’n groot daling in die brandstofprys in April kan keer nie. Mense wat van die huis af werk, het die bykomende voordeel dat hulle nou minder hoef te ry en in die algemeen aan vervoer hoef te bestee – veral aangesien die kinders ook nou almal by die huis is.

Die brandstofprys is ook ’n vername element in die bepaling van die inflasiekoers en die dalende prys van petrol en diesel sal ook ’n gewenste uitwerking op hierdie stygende koers hê.

Ons besige werkslewens steel baie van ons gesinstyd. Ons wil dit nie só hê nie, maar vir baie van ons is lang reise na ons werkplekke en lang ure op kantoor of weg van die kantoor ongelukkig ’n werklikheid. Met dié dat baie van ons saam met ons kinders tot ons huise beperk is, moet ons die tyd so goed moontlik aanwend. As jy steeds baie het om te doen, kan jy nou nogtans saam met jou kinders ontbyt en middagete eet en so tussendeur tyd saam met hulle bestee.

Laastens kry die natuur en aarde ’n blaaskans. Mense het onskatbare waarde na die aarde gebring, maar ons het ongelukkig ook skade veroorsaak. Hierdie krisis, wat mense regoor die wêreld tot hul huise beperk, het die onbedoelde gevolg om die aarde ook kans te gee om te herstel. In Venesië is die gragte bevoordeeld baie skoner as wat hulle gewoonlik is. Die besoedeling is op plekke minder en sal waarskynlik nóg minder word.

Hierdie ligpunte mag dalk net flikkeringe wees, maar dit is nietemin flikkeringe van hoop in onseker tye. Laat ons ook op die positiewe aspekte fokus terwyl ons nie vergeet om steeds die nodige te doen om hierdie krisis die hoof te bied nie.

 

 

Soortgelyke plasings