Openbare beskermer of openbare bedreiging?
Deur Ernst van Zyl
Ons huidige openbare beskermer is onder verdenking gebring deur ’n paar ernstige bevindinge deur ons regstelsel in terme van haar integriteit en eerlikheid. Dit laat belangrike vrae ontstaan oor haar vermoë om haar pligte doeltreffend uit te voer. Mens wonder boonop hoe sy in die eerste plek in so ’n belangrike pos aangestel is, en tweedens waarom dit so moeilik is om haar te vervang, haar tekortkominge ten spyt? Die verloop van gebeure moedig Suid-Afrikaners aan om ons konstitusionele orde, die beskerming daarvan en die rol wat die burgery daarin speel in alle erns te heroorweeg.
Volgens die Suid-Afrikaanse regering se begrip gee die openbare beskermer se amp aan haar die mag – wat deur nasionale wetgewing beheer word – om enige gedrag in staatsake of in die openbare administrasie van enige regeringsfeer te ondersoek wat daarvan verdink word of beweer word om onvanpas te wees, of wat tot ’n onbehoorlikheid of vooroordeel kan lei. Die Konstitusionele Hof het egter in Julie 2019 in ’n meerderheidsuitspraak die bevinding van die Noord-Gautengse hoë hof in 2018 bekragtig dat Busisiwe Mkhwebane, die huidige openbare beskermer, persoonlik vir 15% van die regskostes van die Absa/Bankorp-saak verantwoordelik is. In ’n 2017-verslag het die openbare beskermer die spesiale ondersoekeenheid opdrag gegee om R1,2 miljard van Absa Bank te verhaal. Dié bedrag hou verband met ’n finansiële inspuiting deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) vir Absa se filiaal, Bankorp, in die middel-90’s. Sy het ook beslis dat die parlement ’n mosie moet indien om die Grondwet te verander om die SARB se mandaat te wysig om op dié wyse ekonomiese groei te prioritiseer.
Die Konstitusionele Hof het bevind dat die openbare beskermer se ondersoekmodel in geheel gebrekkig is, dat sy oneerlik was oor haar afsprake tydens die ondersoek en dat sy ’n aantal valshede in die verloop van die litigasie voorgehou het. Verskeie regters het sommige van Mkhwebane se verslae as irrasioneel, vaag, onsinnig, teenstrydig en ongrondwetlik beskryf. Sommige regters het verdere inkriminerende bevindinge en opmerkings gelewer; soms selfs so ver gegaan as om te verklaar dat sy ter kwader trou opgetree het, oneerlik en bevooroordeeld was, verskeie onwaarhede voorgehou het, nie haar grondwetlike pligte begryp nie en onder eed gelieg het.
Wanneer dié oorvloed van verdoemende uitsprake van sulke hoë gesag oorweeg word, asook die aangewese rol van openbare beskermer, kan mens nie anders as om te wonder of Mkhwebane se optrede nie lynreg met haar pligte bots nie. Die Konstitusionele Hof se fel uitspraak skets sekerlik die prentjie dat die huidige openbare beskermer beduidende skade aan die reputasie en status van haar amp aanrig – indien nie die einste publiek bedreig wat sy aangestel is om te dien en beskerm nie. Om eerlik te wees, behoort sy ’n toonbeeld van betroubaarheid, geloofwaardigheid en integriteit te wees. Dit is nou te betwyfel of sy wel oor hierdie eienskappe beskik.
Die amp van die openbare beskermer is spesifiek geskep om as belangrike wig en teëwig teen die misbruik van regeringsmag op te tree. Dit is ’n noodsaaklike teëwig in ons konstitusionele demokrasie en indien dit onder verdenking kom, kan dit tot die toenemende wanfunksie van die konstitusionele orde lei.
Neem mens in ag dat Suid-Afrikaanse belastingbetaler haar salaris betaal met die vertroue en redelike verwagting dat sy haar integrale pligte met die nodige sorg en ywer nakom, word dit duidelik hóé ernstig die implikasies van die Konstitusionele Hof se uitspraak vir ons konstitusionele demokrasie is. Die vooruitsigte dat Mkhwebane opgevolg sal word deur ’n openbare beskermer wat die toonbeeld van eerlikheid, integriteit en onpartydigheid is, blyk egter baie skraal te wees. Die amp se mandaat van onpartydigheid is in die reël maar met aanstellings geïgnoreer. Willie Spies van Hurter Spies Ing. het tereg opgemerk dat hy van geen ander hoofstuk 9-instellings weet wat soveel hersieningsaansoeke teen dit het nie.
Alles in ag genome, blyk dié saak vrugbare grond te wees vir nuwe perspektiewe en benaderings van hoe ons konstitusionele orde moet funksioneer; ook hoe dit in toom gehou moet word. As die staat duidelik in hierdie opsig faal, word ’n verhoogde konstitusionalisme vry van die regering ’n dringende oorweging vir bespreking. Die tyd het aangebreek dat die burgery ’n sterker standpunt inneem as die bewaarders van die steunpilare van ons konstitusionele orde. Organisasies soos AfriForum het reeds die eerste treë gegee om só ’n paradigmaskuif te verwesenlik, vernaamlik deur hul veldtog om die wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet teë te staan. In die woorde van Victor Hugo: “Niks is so kragtig as ’n idee waarvan die tyd aangebreek het nie.”
Ernst van Zyl is ’n strategie-en-veldtogbeampte by AfriForum, ’n mede-aanbieder van die Podlitiek-podgooi en gasheer van die intydse Stream of Consciousness-onderhoudsprogram op YouTube. Ernst gesels gewoonlik op Twitter en YouTube onder die skuilnaam Conscious Caracal (volg hom by https://twitter.com/ConCaracal).