AfriForum se Potchefstroom-buurtwag ontvang patrollie-opleiding
AfriForum se Potchefstroom-buurtwag het op 18 Oktober 2018 basiese patrollie- en regsaspek-opleiding ontvang weens ’n toename in lede wat onlangs by die buurtwag ingeskakel het.
Die opleiding is aangebied deur Corné Cronjé, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek, en Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder. Buurtwaglede uit verskillende gebiede in Potchefstroom het dié opleiding bygewoon. Die pasverkose bestuur van AfriForum se Orkney-buurtwag was ook teenwoordig. Hierdie opleiding is daarop gemik om wenke aan patrolleerders te gee oor goeie patrollering en om hulle te bemagtig wat wetlike aspekte betref.
Tydens die interaktiewe sessie het buurtwaglede die geleentheid gekry om vrae te stel oor verskeie onsekerhede oor wetlike pligte tydens patrollering en huis- en haardbeskerming. AfriForum beskou opleiding aan buurtwagte as ’n noodsaaklikheid sodat buurtwagte doeltreffend en binne die raamwerk van die wet kan funksioneer.
“Buurtwaglede speel ’n belangrike rol wat gemeenskapsveiligheid betref en daarom is dit belangrik dat elke patrolleerder goeie opleiding ontvang. ’n Goed opgeleide buurtwag kan ’n daadwerklike impak in die bekamping van misdaad maak,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Tydens die aand se verrigtinge het die takbestuur ook aan twee bestuurslede erkenning gegee vir toekennings wat hulle by AfriForum se nasionale kongres ontvang het. Dirk Venter en Markus Fourie is vereer vir die onbaatsugtige diens wat hulle aan die gemeenskap van Potchefstroom gelewer het. Die takbestuur verwelkom ook twee nuwe lede: Christo van der Walt (ondervoorsitter) en Susan van Wyk (sekretaresse).