Klerksdorp se vullisterrein steeds in haglike toestand
AfriForum het Klerksdorp se vullisterrein besoek en ná ’n oudit daarvan bevind dat dit nie aan die vereistes voldoen wat deur wetgewing gestel word nie. Dié oudit vorm deel van ’n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe met gevestigde AfriForum-takke aan die hand van 33 vrae gemeet word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen wat toegangsbeheer en regulasies oor onwettige storting, omheining, rehabilitasie en brandregulasies behels. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag.
“Die vullisterrein in Klerksdorp het 18% behaal. Dit is veral kommerwekkend om te sien hoeveel mense op dié terrein woon. Daar is geen regulering wat toegelate rommel betref nie en ons het selfs diere-afval op die terrein gevind,” sê Stephen Nel, assistentkoördineerder vir AfriForum se sentraalstreek.
Nel sê voorts dat die situasie by die vullisterrein vererger het ná afloop van verlede jaar se oudit, waarin die terrein 45% behaal het. “Alle soorte vullis word hier toegelaat en die meeste daarvan word doodeenvoudig net gebrand in plaas daarvan om behoorlik gekompakteer te word.”
AfriForum het ongeveer 120 vullisterreine geoudit in gebiede waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Dié uitslae gaan in ’n verslag opgeneem word wat ook aan die departement van omgewingsake oorhandig gaan word. “Ons is dankbaar vir die departement se samewerking en dat hulle provinsiale afvalbestuursbeamptes vir ons oudits beskikbaar gestel het,” sê Chris Boshoff, AfriForum se omgewingsakekoördineerder.
Ná afloop van dié projek gaan AfriForum in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n plan as alternatief vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in ander lande.
AfriForum het aanmaningsbriewe aan munisipaliteite gestuur waarvan die vullisterreine nie op standaard is nie. Die burgerregte-organisasie het verder aksieplanne en doeldatums vereis wat in plek gestel moet word om te verseker dat vullisterreine op ’n wettige, omgewingsvriendelike wyse bestuur word.
Die ouditverslag sal ook vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite aan die Groen Skerpioene oorhandig word.
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op standaard gebring word.