AfriForum en gemeenskapstrukture werk saam om Moreletaspruit skoon te maak
Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 7 Oktober 2017 in samewerking met die Garslink-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), polisiereserviste, verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye (insluitend Chubb, Bull Security, ADT, Accon Security en High Risk Security) en gemeenskapslede hand aan die ploeg geslaan om die gebied rondom die Moreletaspruit skoon te maak.
Nagenoeg 80 swartsakke se vullis is in dié gebied in Garsfontein opgeruim.
“Selfdoenprojekte maak ’n groot verskil in ons gemeenskap en dit is verblydend om te sien dat mense bereid is om saam te staan om hierdie gebied ’n beter plek vir almal te maak,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng-Noord.
Gemeenskapslede word aangemoedig om by AfriForum betrokke te raak: SMS “Skoon” na 45341 (R1), óf stuur ’n e-pos na lambert@afriforum.co.za.