|

Toename in geweldsmisdaad ’n teken vir gemeenskappe om te mobiliseer

Die kwartaallikse misdaadstatistieke vir Januarie tot Maart 2023 is vandag deur Bheki Cele, die minister van Polisie, vrygestel. Dit is nie verbasend dat die statistieke ’n donker prentjie skets van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se vermoë om sy mandaat na te kom nie.

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum het die polisie weer bewys dat hy nie sy mees basiese verantwoordelikhede suksesvol kan nakom nie, naamlik om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek, om die openbare orde te handhaaf, om die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig, en om die wet te handhaaf en toe te pas.

“Hoewel dit baie kommerwekkend is dat daar weer ’n toename in geweldsmisdade soos moord en ander kontakmisdade was, is dit nie verbasend in die lig van die SAPD se rekord van wanbestuur, korrupsie en politieke inmenging nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Hoe verwag jy van beamptes om hoë vlakke van motivering te handhaaf as jy ’n polisieminister het wie se hooffokus is om na misdaadtonele te stroom vir fotogeleenthede, terwyl polisiebeamptes in sommige gevalle hul eie ammunisie moet koop,” sê Broodryk.

Volgens AfriForum is die enigste manier om gemeenskappe onder hierdie omstandighede te help beskerm om buurtwagte en ander veiligheidstrukture op die been te bring. AfriForum het 165 buurt- en plaaswagstrukture landwyd. Vrywilligers ontvang opleiding en hulp in verskeie dissiplines rakende gemeenskapsveiligheid.

“Dit het vir ons baie duidelik geword dat in gebiede waar burgerlike veiligheidstrukture aktief is, misdaad afneem,” sluit Broodryk af.

Klik hier om by jou naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit.