Blou-en-groendruppelprojek: Stellaland se drinkwater is skoon
AfriForum het die afgelope maand Stellaland se watergehalte as deel van die burgerregtewaghond se nasionale blou-en-groendruppelprojek getoets. Uitslae dui aan dat die drinkwater skoon is.
“Ons kon vasstel dat Stellaland se drinkwater skoon is, geen swaarmetale bevat nie en dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen. AfriForum gaan egter die watergehalte deurlopend toets om te verseker dat inwoners se grondwetlike reg op skoon drinkwater te alle tye beskerm word.
“Ons het ook die dorpe in Stellaland se rioolwater getoets en bevind dat dit aan die gestelde standaarde voldoen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.
AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Dié projek fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.