AfriForum se Ellisras-buurtwag ontvang patrollie-opleiding
Lede van AfriForum se Ellisras-buurtwag het gister patrollie-opleiding ontvang.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is professionele opleiding belangrik vir elke veiligheidstruktuur. “Dis belangrik dat AfriForum se buurtwaglede te alle tye binne die raamwerk van die wet optree. Dis verder belangrik dat buurtwaglede die korrekte opleiding ontvang – vir hul eie sowel as die gemeenskap se veiligheid,” sê Grobbelaar.
Die buurtwag vorm deel van AfriForum se plaaslike takstruktuur en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie in tye van nood by te staan.
“Die AfriForum-buurtwag is hier om ’n daadwerklike verskil te maak en te help om misdaad te bekamp. Ons moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en nooi alle veiligheidstrukture uit om saam met die buurtwag te werk,” sê George du Toit, voorsitter van dié buurtwag.
“Hoe meer mense betrokke raak, hoe groter die impak en verskil wat ons in Ellisras kan maak,” sê Aldo Venter, voorsitter van AfriForum se Ellisras-tak.