| |

Brits-buurtwag vang watermeterdief

Die AfriForum-buurtwag in Brits het op 8 April ’n watermeterdief in Kerkstraat vasgetrek. Meer as 30 watermeters is die afgelope tyd in Brits gesteel.

Die buurtwag doen ’n beroep op die publiek om hierdie soort diefstalle by die polisie te rapporteer sodat sake geopen kan word ten einde die verdagtes vas te trek. Op hierdie manier kan daar ook gekyk word of verdagtes met ander misdade in die omgewing en elders verbind kan word.

“Die gemeenskap kan staatmaak op AfriForum se buurtwag hier in Brits en ook Protego Sekuriteit en Monitor Net om te help om die gemeenskap veilig te hou,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die samewerking tussen hierdie veiligheidsrolspelers is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n gemeenskap kan saamstaan om misdaad te beveg. Ons wil graag ons buurtwaglede en die sekuriteitsmaatskappye wat hierby betrokke was bedank vir hulle harde werk en toewyding,” sê Johan de Klerk, veiligheidsvoorsitter van die AfriForum-tak in Brits.

Persone wat wil aansluit by die AfriForum-buurtwag om te help om die gemeenskap te beveilig kan vir Johan de Klerk skakel by 082 415 0987.