| |

Plunderaars op heterdaad betrap in Kimberley

Die AfriForum-buurtwag in Kimberley het op Donderdag 23 Maart saam met die plaaslike GPF twee verdagtes vasgetrek wat probeer vlug het ná hulle ’n gebou verder geplunder het.

Dié gebou word aan ondernemings uitverhuur maar staan tans leeg en word geteiken deur diewe wat die koper handvatsels, bedrading uit die plafon en ander metale uit die gebou stroop om dit te verkoop as skrootmetaal. Ses verdagtes het van die toneel af gevlug en inligting oor die vier verdagtes wat nie vasgetrek is nie kon aan die plaaslike SAPD gegee word.

“Ons het Donderdagmiddag ’n oproep van ’n ander plaaslike buurtwaglid ontvang om te gaan help waar ’n inbraak besig was om plaas te vind. Hierdie geboue wat leeg staan is ’n trekpleister vir misdadigers en ons doen ’n beroep op die gemeenskap om paraat te wees en seker te maak die regte veiligheidsmeganismes is in plek om hul bates te beskerm,” sê Alwyn Swart, ’n lid van die AfriForum-buurtwag in Kimberley.

Hierdie buurtwag is ook Donderdag deur die Klisser-gemeenskap genader oor die beveiliging van hulle omgewing. Anena Burger, een van die inwoners, sê dat die veiligheid in hierdie area in die laaste maand agteruitgegaan het met verskeie insidente wat plaasgevind het. Hierdie insidente sluit in dat ’n afleweringspersoon aangeval is en ’n inwoner se kragopwekker wat helder oor dag gesteel is.

“’n Pluimpie vir AfriForum se Kimberley-buurtwag wat dadelik reageer het toe ek hulle gekontak het en hulle het kom kyk wat hulle kan doen om te help. Ek het net besluit tot hier toe en nie ’n dooie duit verder nie,” sê Burger.

“Die suksesse wat hierdie AfriForum-buurtwag behaal kan toegeskryf word aan hul bereidwilligheid om saam met ander rolspelers te werk en die opleiding wat hulle ontvang het toe te pas. Dit is ook lekker om te sien dat die buurtwag uitgaan en met die gemeenskap gesels om te hoor hoe hulle saam kan werk om ’n veilige omgewing te bewerkstellig. Gemeenskapslede kan ook aktief by hul buurtwag betrokke raak deur saam patrollies te ry en die buurtwag in kennis te stel van enige verdagte aktiwiteite,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Raak vandag nog betrokke by die AfriForum-buurtwag in Kimberley deur ’n boodskap te stuur na 066 321 1074.