| |

Bothaville-tak help met die herstel van Presidentstraat

AfriForum se Bothaville-tak is deel van die span wat Presidentstraat, wat die dorp met Meyerhof verbind, opgradeer. Die plaaslike Nala-munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron), die Mieliehoofstad-sakekamer (MHSK), en Trots Bothaville vorm ook deel van die span.

Daar is reeds 530 m² se slaggate in Presidentstraat met 53 ton teer opgevul. Die munisipaliteit voorsien die werkers, seёllaag en die diesel, en is ook vir die vervoer van die teer vanaf Stilfontein verantwoordelik. Dié tak sowel as die Mieliehoofstad-sakekamer (MHSK) en Trots Bothaville het die teer geskenk.

Tans is voorbereiding onderweg om ongeveer 137 m² se slaggate met 13 ton teer in Prellerstraat op te vul.

Beplanning om die kruising by President- en Symondsstraat op te gradeer en die pad te seёl is ook in die pyplyn. Die betrokke instansies wat die teer geskenk het se begrotings is egter uitgeput en vra dat die gemeenskap en plaaslike ondernemings ’n bydrae kan maak. Vir meer inligting oor die projek of om ’n bydrae te maak, kontak gerus vir Willie Prinsloo by 083 306 5732.

Willie Prinsloo, die voorsitter van die Bothaville-tak het by Dirk Venter van die Potchefstroom-tak, opleiding in die opvul van slaggate ontvang. Daarna het die Bothaville-tak ’n sleepwaentjie aangeskaf met die nodige toerusting waarna Prinsloo die munisipale werkers opgelei het.

“Ons bedank die gemeenskap en ondernemings wat reeds bydraes gemaak het om die strate op te gradeer. Om egter ’n daadwerklike verskil te maak en met die slaggatprojek voort te gaan, het ons nog fondse nodig en vra daarom die gemeenskap om ons in die hoedanigheid te ondersteun,” sê Willie Prinsloo, voorsitter van die Bothaville-tak.

“Hierdie is weereens ’n uitstekende voorbeeld van die gemeenskap wat hande vat en hul dorp verbeter. Ek bedank elke instansie, onderneming en die plaaslike Nala-munisipaliteit wat hierdie projek moontlik maak. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Dié tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak: SMS “Bothaville” na 45344 (R1).