Afrikaners moet na internasionale voorbeelde vir oorlewing kyk
Wêreldwyd het elke geslag van elke volk in hul tyd hul uitdagings om te werk en te skep om by hul doelwitte uit te kom.
Afrikaners bevind hulle nie vandag in enige ander posisie nie, sê dr. Heinrich Matthee, ʼn politieke-risiko-ontleder vir internasionale maatskappye, ’n navorser en ’n internasionale dosent.
Hy was vandag ’n spreker by AfriForum se derde nasionale kongres in Warmbad waar hy oor kultuurvryheid aan die hand van internasionale voorbeelde gepraat het.
Matthee het gesê jong Afrikaners gaan binne die volgende 20 tot 30 jaar van die moeilikste tye beleef. Hulle gaan onder druk wees om te oorleef en hulle sal die regte keuses ten opsigte van hul persoonlike lewe en groep moet maak. Dit gaan van kardinale belang wees dat Afrikaners mekaar in die toekoms gaan moet help en ondersteun om te voorkom dat ander hulle oorheers. Hulle sal ook die regte besluite moet maak ten opsigte van werk, vaardighede en die bekom van kundigheid. Ook op geestelike vlak, sal hulle sterk moet wees.
Sy raad aan jongmense is dat hulle moet sorg dat hulle die beste is in wat hulle doen en dat hulle voortdurend hoog moet mik. Hulle moet vrywillige deelname en kameraadskap binne hul groep koester en na mekaar uitreik. Hy het ook gesê die rol en bydra wat oudgediendes kan maak, moet nie onderskat word nie.
Matthee het ook gewys op die taak wat Afrikaners het om hul eie kultuur te beskerm en deur opleiding van dosente en onderwys te verseker dat kultuur en taal oorgedra word.
Matthee meen ook die diaspora van Afrikaners moenie onderskat word nie. Hulle het ’n reserwe- en hefboomkrag wat groot kan wees.
Matthee waarsku dat Afrikaners nie naïef moet wees oor die stryd teen hulle nie. Dit is polities en daarop gemik om hul bates af te neem en hulle klein te hou ten spyte van die feit dat hulle ook Afrikane in Suid-Afrika is.
Volgens Matthee moet Afrikaners ook besef dat die geopolitiek en die opkoms van identiteitspolitiek in Europa sonder twyfel ook ’n invloed op hulle en die land sal hê.