|

Voorsitter van die Suid-Tiroolse vriendekring van die Afrikaner besoek AfriForum

“Slegs julle het die mag om op te staan teen diegene wat julle taal, kultuur en identiteit wil vernietig.”

Só het dr. Gino Bentivoglio, voorsitter van die Suid-Tiroolse vriendekring van die Afrikaner, gesê tydens ’n besoek aan AfriForum waar hy oor minderheidsgroepe se uitdagings gepraat het.

Hy het dié burgerregte-organisasie en ander personeel van die Solidariteit-beweging toegespreek as deel van ʼn skakeltoer na Suid-Afrika.

Bentivoglio, wat Afrikaans uit ʼn woordeboek onder die knie gekry het, is ʼn inwoner van die selfstandige Italiaanse provinsie Suid-Tirool, wat ook ʼn geskiedenis het waar minderheidsgroepe vir hul taal, kultuur en land moes veg.

Hy het as deel van sy voorlegging uitgebrei oor die geskiedenis van sy land en die interessante bande wat voormalige Suid-Afrikaanse leiers soos Jan Smuts en Paul Kruger voorheen met Suid-Tirool gebou het.

“Ons het besluit om ons verhoudings met Suid-Afrika verder uit te bou omdat ons empatie het vir die uitdagings wat minderheidsgroepe in die land ervaar. Ons wil spesifiek in solidariteit met Afrikaners staan omdat ons soortgelyke belange en ʼn geskiedenis met dié groep deel.”

Suid-Tirool is ʼn selfstandige provinsie in die noorde van Italië en grens aan die noorde van Oostenryk en die noordwestelike deel van Switserland. Suid-Tirool was voor 1918 ‘n deel van Tirool in Oostenryk-Hongarye en is sedert die oorgawe van Oostenryk ‘n outonomiese streek van Italië.

Volgens Bentivoglio is dié, hoofsaaklik Duitse provinsie, deur Italië beset aan die einde van die eerste Wêreldoorlog in 1918 en in 1919 geannekseer as deel van die Koninkryk van Italië.

Met die groei van fascisme in Italië, het die nuwe regime begin met die “Italianisering” van Suid-Tirool, waartydens die Duitse taal verban is uit openbare dienste en as onderrigtaal. Duitse koerante is ook gesensor en die nuwe regime was ook ten gunste van die immigrasie van Italianers vanaf ander provinsies.

Suid-Tirool se na-oorlogse uitdagings is in 1971 opgelos, na afloop van ondernemings op internasionale vlak, toe ʼn nuwe Oostenryks-Italiaanse ooreenkoms geteken is. Die provinsie se nuwe outonomiese status het gevolglik gelei tot ʼn redelike vlak van selfregering.

Die provinsie se amptelike tale is ook verander na Duits, Ladinge en Italiaans.

Bentivoglio het tydens sy voorlegging gesê dat hy as deel van ʼn minderheidsgroep geleer het dat mens nie altyd afhanklik kan wees van jou land se regering nie.

Sy advies aan die Beweging en AfriForum spesifiek was eerstens dat dit nie saak maak wie eerste in ʼn land aangekom het nie en dat die meerderheid altyd sal regeer. Tweedens meen hy daar kan nie altyd in geregtigheid geglo word nie, omdat dit soms tot voordeel van die sterkste groep en nie alle landsburgers toegepas word. Laastens het hy gesê elke kultuur/taalgroep is alleen daarvoor verantwoordelik om hul taal te bewaar.

“Ons het al gesien dat wanneer gesentraliseerde regerings minderhede se regte skend, die internasionale gemeenskap nie altyd bereid is om in te tree nie. Daarom moet minderhede die wilskrag hê om self op te staan vir hul eie regte.”

Hy het voorts gesê dat die Europese media dikwels oningelig is oor die realiteite in Suid-Afrika. Met die vertoning van die film Treurgrond in Suid-Tirool, vertel hy was die Suid-Tirolers verbaas oor die vlak van geweld wat tydens plaasaanvalle en –moorde gebruik word.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die burgerregte-organisasie as deel van die Solidariteit Beweging trots om te sê dat baie van Bentivoglio se voorstelle en advies in die stryd om vir die Afrikaanse taal en kultuur op te staan, reeds toegepas word.

Soortgelyke plasings