Solidariteit Beweging gaan taakspan aanwys om onafhanklike Afrikaanse onderwys te ondersoek
Openbare skole moet beskerm word asof daar geen alternatief is nie. Korttermyntoegewings kan nie gemaak word wat vernietigende langtermyngevolge gaan hê nie.
Afrikaanse ouers moet gemobiliseer word en besef hoe belangrik hul rol geword het om openbare skole selfstandig te hou. Terselfdertyd moet die toekoms van onafhanklike Afrikaanse skole dringend ondersoek word.
So het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vandag by ’n toekomsberaad oor onderwys in Centurion gesê.
Hermann het ook na die stand van Afrikaans op universiteitvlak verwys.
Waar daar 15 jaar gelede beloftes en ondernemings was vir die verskansing en beskerming van Afrikaans by universiteite, het die situasie vandag so versleg dat verskeie universiteite tans in hofsake met Solidariteit en AfriForum gewikkel is ter behoud van Afrikaans as onderrigmedium.
Volgens Hermann het die regering se ideologiese obsessie met rasseverteenwoordigendheid universiteite ingehaal. Afrikaans by universiteite is nie deel van die regering se ideologiese momentum nie. Die stryd is ook nie tussen Afrikaans en Engels nie, maar oor waardes wat met Afrikaans geassosieer word en in die pad van Afrikanisering staan.
Die Afrikaanse gemeenskap het die stryd verskraal tot ’n taalstryd, terwyl die regering met ’n dieper stryd besig is.
Volgens Hermann het Solidariteit en AfriForum lankal besef dat in die lig van wat besig is om by openbare universiteite te gebeur, ’n privaat universiteit opgerig sou moes word waar wêreldklas-onderrig in Afrikaans moontlik is.
Hermann het ’n pleidooi gelewer dat ouers en gemeenskappe ernstig moet begin fokus op ’n strategie vir selfstandigheid van openbare skole. “Ouers moet geaktiveer word om skole te beskerm. Hulle moet leer om in massas saam te staan om skole te ondersteun en te beskerm. ’n Pakt met beheerliggame en skoolhoofde is nodig vir die behoud en beskerming van skole.”
Terwyl gemeenskappe alles moontlik moet doen om openbare skole te beskerm, is die realiteit egter dat onafhanklike skole ’n groterwordende rol in Afrikaanse onderrig sal speel. Een van die redes hiervoor is dat die staat toenemend gaan sukkel om gehalte-onderrig te lewer.
Hermann het gesê daar sal na verskeie faktore gekyk moet word vir suksesvolle onafhanklike skole soos begronding, moedertaalonderrig, die kurrikulum, bekostigbaarheid, finansiële volhoubaarheid, gehalte-onderwysers, doeltreffende stelsels wat onderrig kan versterk, goeie leierskap en bestuur van skole en netwerke.
Hermann het gesê die Solidariteit Beweging het besluit om ’n taakspan van kenners aan te wys om onafhanklike Afrikaanse onderwys verder te ondersoek. Bestaande modelle sal ook ondersoek word.