Slag vir Afrikaans is slag vir ander inheemse tale
“Deur hierdie jongmense van hulle taalregte te ontneem, word niemand bemagtig nie en geen ander inheemse taal uitgebou nie. Die besluit is strydig met die gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet en internasionale taalregte.”
So meen Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, oor die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Stellenbosch (US) se besluit om in 2017 ʼn taalbeleid te aanvaar waarvolgens Engels die enigste primêre onderrigtaal sal wees.
Volgens Bailey het raadslede wat ten gunste van die besluit gestem het, nie net hulle gemeenskap se taalregtebelange verraai nie, maar dié van alle Suid-Afrikaners. Sy is ook van die mening dat dié besluit eerder onverdraagsaamheid as wedersydse erkenning onder studente gaan bevorder.
“Dit voorspel niks goeds wat nasionale stabiliteit en polarisasie in die toekoms aanbetref nie. Dit kom voor asof die besluit ʼn daad van politieke gedienstigheid en ʼn kniebuiging voor anargie is. Studente se dreigemente van onverdraagsaamheid en geweld is met toegewings begroet,” sê Bailey.
Dit volg nadat verskeie kampusse sedert 2015 onder leiding van radikale studente-organisasies betogings gehad het onder die #feesmustfall-aksie asook ander transformasiegedrewe veldtogte. Vanjaar het verskeie universiteitskampusse gedurig verskerpte aanslae teen Afrikaans as onderrigtaal ervaar.
“AfriForum beskou hierdie besluit as ʼn ongrondwetlike taalregtevergryp,” het Bailey gesê.
Volgens die UP is die doel van die nuwe taalbeleid om sosiale samehorigheid te skep en om gelyke geleenthede aan die sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale te bied.
Die universiteit het in ʼn verklaring gesê Afrikaans sal as onderrigtaal geleidelik uitgefaseer word en dat die implementeringsdatum onderworpe is aan die proses wat gevolg moet word in samewerking met die departement van hoër onderwys en opleiding. Daar is wel ook besluit om Afrikaans te behou as ‘n akademiese en vaktaal, terwyl die UP die ontwikkeling van Sepedi tot ‘n hoër vlak van wetenskaplike diskoers, wil ondersteun.
Die US het in sy verklaring gesê die nuwe beleid berus op die beginsels dat die universiteit se onderrigtale toegang en akademiese sukses moet bevorder en dat die instelling se taalbeleid sy akademiese projek moet dien.
Volgens die US maak die beleid uitdruklik voorsiening vir studente wat verkies om in Afrikaans te studeer deur middel van parallelmediumklasse en tolkstelsels.
Volgens Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is die tolkstelsel slegs ʼn manier vir die US om sy gewete te sus. “Dit is net so goed jy probeer ʼn maagseer met ʼn pleister gesond maak. Dit is heeltemal ondoeltreffend.”
Hy het aan Forum Nuus gesê dat die US en UP albei die verkeerde besluit gemaak het om hul nuwe taalbeleide te aanvaar, veral weens die impak wat dit op die ontwikkeling van ander Suid-Afrikaanse tale gaan hê.
“Met die wegdoen met Afrikaans is daar geen hoop, motivering of inisiatief om ander inheemse tale verder akademies te ontwikkel en te bevorder nie.”
Hy het ook kommer uitgespreek oor die impak wat dié besluit op die toekoms van Afrikaanse skole gaan hê. “Hoekom sal ek as ouer my kinders na ʼn Afrikaanse skool toe stuur as dit nie op universiteitsvlak aangebied word nie. Hierdie is ʼn groot stap terug vir Afrikaans op skoolvlak.”
Tiaan van Dyk, voorsitter van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, het aan Forum Nuus gesê dat Afrikaans as ʼn hoë-funksie taal sterk benadeel word deur die universiteite se nuwe beleide. Hy is ook van mening dat die universiteite die ekonomiese impak van hul besluit sal agterkom.
“Afrikaanse gemeenskappe sal moet saamstaan. Die toekoms en redding van Afrikaans berus op private akademiese instellings.”