Wedersydse respek tussen Beeld en AfriForum nodig, sê redakteur
Barnard Beukman, Beeld se nuwe redakteur, se ideaal en model vir die koerant is dat dit ’n objektiewe markplein vir oop gesprekke, indringende debatte, verskillende gedagtes en konstruktiewe kritiek moet wees.
Waar hy gemaklik in sy kantoor in Mediapark in Aucklandpark sit, is dit duidelik dié oud-joernalis, wat ook die besigheidskant van koerante goed ken, het nie byltjies met enigiemand te slyp nie.
Terwyl daar in sommige kringe ’n persepsie is dat hy Beeld toe gebring is weens die vinnig krimpende leserstal en vervreemding wat al hoe meer lesers begin voel het, is sy eerlike indruk dat die direksie eerder na iemand gesoek het wat die nodige ervaring het om te help met die oorgang van die gedrukte na die elektroniese media.
Beukman meen die skuif van die gedrukte na elektroniese media is ’n wêreldwye tendens. Dis ’n werklikheid en deel van mense se lewenstyl. Dis ’n model wat met balans en strategie bestuur moet word.
Die dae van gedrukte koerante is egter nie getel nie. “Media24 belê in aanlyn, maar dit is te vroeg om van papier afskeid te neem. Terwyl die elektroniese media wêreldwyd neig om oor nasionale, internasionale en plaaslike groot nuusgebeure te berig, is die koerant steeds meer op die stedelike, dorp en gemeenskapsnuus gefokus.
“Dis hoekom die leuse: Jou wêreld, jou koerant teruggebring is.”
Met Beukman se aanstelling het hy en die hoofredaksie besluit hulle wil Beeld posisioneer as ’n koerant naby aan die sentrum en middel van die politiek binne die Afrikaanse en breër konteks. “Ons posisioneer ons nie rondom ’n bepaalde politieke party of standpunt nie.
“Die wese van die koerant is om progressief te wees en vrae te vra. Alle idees moet op die tafel geplaas word en ons moet onbevange kan berig oor alles wat organisasies doen.
“My uitgangspunt is dat ons van mekaar kan en mag verskil, maar dat dit met respek gedoen moet word. Ek dink die onlangse ope briewe tussen my en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) is ’n goeie voorbeeld van hoe dit gedoen kan word. Ek het vrae gehad oor die optrede van AfriForum Jeug op kampusse in die lig van die huidige opstande en Kallie het op sy beurt positief en reguit geantwoord.”
Die feit dat Suid-Afrika se demokrasie nog so jonk is, is volgens Beukman nog ’n rede waarom daar nie sonder ’n sterk media én gedrukte media klaargekom kan word nie. Ook die Afrikanervolk en Afrikaanssprekendes is te jonk in bestaansgeskiedenis om sonder dié media klaar te kom. “Die gedrukte media is noodsaaklik omdat daar ruimte is om kwessies en nuus te ontleed. En die rol van ’n onafhanklike media is nodiger as ooit om vrae te vrae en besluite te bevraagteken.
Kyk byvoorbeeld na die deurslaggewende rol wat die media gespeel het om die korrupsie rondom Prasa en die ingevoerde treine uit Spanje te ontbloot.
Om terug te kom na Beeld en sy lesers. “Ons uitgangspunt is dat mense moet voel hulle gaan iets mis as hulle nie die koerant kry nie. Natuurlik raak mense soms kwaad vir die koerant. Die koerant kan ook nie sê alles wat Afrikaanse mense dink is reg nie. Mense moet egter tuis voel in die koerant. Hulle moet voel dat hul frustrasies en aspirasies daarin weerklank vind. Ons kan ons egter nie in ’n eie kring sit en mekaar warm praat nie. Alles wat ons doen moet ons toets aan die omstandighede en werklikheid rondom ons.”
Volgens Beukman is dit ’n illusie om te dink daar is net twee denkgroepe wat Beeld lees. “Die lesers se mening oor feitlik enigiets is divers en uiteenlopend.”
Hy meen AfriForum se lede moet in Beeld kan lees wat die organisasie doen.
“Ek glo daar is nou ’n gemaklike, oop verhouding met Solidariteit en AfriForum. Daar was ontmoetings met die leierskap en hulle ondersteun die visie dat die koerant die objektiewe markplein van gedagtes moet wees.”
Beukman sê hy het respek vir die organisasies se aktiwiteite. Dit is konstruktief en hulle het bewys hulle is nie net praters nie, maar ook doeners. “Daar kan egter nie sonder gesonde kritiek na hulle gekyk word nie en ek verwag ook nie dat hulle kritiekloos op die kantlyn sal wees nie.”
Beukman meen burgerlike organisasies het ’n groot rol om te speel. “Ek dink AfriForum is ’ n positiewe organisasie wat beïndruk met sy aktiwiteite. Hulle maak ’n verskil rondom dienslewering en veiligheid en nie net vir wit mense nie. Dit is belangrik dat AfriForum homself as deel van die oplossing van probleme in die land sien.”
Met verwysing na die situasie en politiek in die land, meen Beukman die ANC het groot probleme en dat die party se steun in die komende verkiesings gaan afneem. Die basis van die party se kontrak met sy ondersteuners dat hy dienste sal lewer sodat hulle ook ordentlik kan leef, het misluk. En die ekonomie maak dit nie makliker nie.
Hy meen ANC-kiesers sien nie ’n alternatief nie en swart kiesers kyk ook krities na die EFF. Die DA en sy Musi Maimane aan die anderkant is ook met ’n balanseertoertjie besig om meer swart kiesers te werf en wittes nie afgeskeep te laat voel nie.
Ondanks onstuimige tye soos in die politiek en wat tans aan universiteitskampusse regoor die land afspeel, is Beukman positief oor die toekoms. “As ek byvoorbeeld kyk na die onlangse gebeure met (pres.) Zuma rondom Nkandla in die konstitusionele hof, glo ek dat die grondwet in breë nie so swak kan wees nie. Zuma het nie probeer om die regters te beïnvloed nie – daarin lê daar vir my hoop. ’n Grondwet kan egter nie altyd swak regering afweer nie, maar kiesers kan.
“Ek dink ons het die punt bereik waar swak regering te ver gegaan het. Die pad vorentoe gaan moeilik en robuus wees. Ek glo die skip kan nog omgedraai word. Ek glo die realiste sal beheer oor die ANC kry en daar gaan enorme druk op hulle wees om kundigheid terug te kry om die nodige dienste te lewer.
“Dis hoekom ek glo burgerlike instellings soos AfriForum belangrik gaan wees om hiermee te help. Ons het ’n toekoms en vir die jeug wil ek sê: Konsentreer op jul studies want julle gaan nodig wees soos nog nooit van te vore nie.”