| |

AfriForum plaas president op terme oor dreigende Nasionale Gesondheidsversekering

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag vir President Cyril Ramaphosa op terme geplaas oor die ANC-gedomineerde parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid se aankondiging dat hulle van voorneme is om die Nasionale Gesondheidsversekering-wetsontwerp deur die parlement te laat goedkeur teen 6 Desember 2022. Die organisasie staan reg om die howe te nader indien Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking gestel word en is bereid om die stryd vir kwaliteit gesondheidsorg tot in die hoogste hof te veg.

“Die regering wil die alleenreg en mag hê om oor gesondheidsorg vir almal in die land te besluit. Dit beteken dat dieselfde regering wat jou in die donker laat omdat hulle Eskom in die grond in bestuur het, gaan besluit oor jou en jou gesin se gesondheidsorg. Dit gaan beteken dat niemand behoorlike toegang tot dokters, medisyne, hospitaalbeddens en ander noodsaaklike mediese dienste gaan hê nie. Verder gaan jou belasting ook aansienlik verhoog word om hierdie skema te finansier. Dit gaan miljarde beloop. Dit terwyl jy as belastingbetaler reeds bydra tot die huidige openbare gesondheidsorgstelsel wat klaar só sleg bestuur word,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

AfriForum het vanuit die staanspoor aan die wetgewingsproses deelgeneem en voer aan dat NGV onbekostigbaar is en vatbaar sal wees vir dieselfde wanbestuur en korrupsie wat by ander staatsentiteite gesien word.

“Die fonds gaan by verre die grootste fonds onder staatsbestuur en beheer wees, wat die ANC die geleentheid gee om jou belastinggeld verder te mors en te steel. Kyk net na die toestand van staatshospitale. Die staat het reeds bewys dat hy nie oor die vermoë beskik om openbare gesondheid doeltreffend te bestuur nie. Die regering se voorneme om nasionale gesondheidsversekering deur te druk, is niks anders as ’n desperate poging om steun te werf onder dieselfde mense wat onder hul mislukkings ly en nie toegang tot gehalte gesondheidsorg het nie,” sluit Duvenage af.