| |

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek British Royal College

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 16 November die British Royal College in Pretoria besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Hoërskoolleerders is ook meer oor die gevare ingelig rakende kuberafknouery en die gebruik van sosiale media en die internet,” sê Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum.

“Leerders moet weet dat ’n skool ’n veilige plek is. Dit leer leerders trots en respek en om standvastige pilare vir die toekoms te hê. Dit is belangrik vir vandag se jeug om mekaar met respek te hanteer en verdraagsaam teenoor mekaar te wees. Emosionele intelligensie is ’n uiters belangrike aspek om leerders vir enige situasie gereed te maak,” sê Anne Pienaar, onderwyseres by die British Royal College.

Vir meer inligting rakende AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.