| |

Onbeholpe optrede van NVG lei daartoe dat moordbeskuldigde deur die krake glip

Nhlanhla Ngwenya, die Zimbabwiese-burger wat daarvan aangekla word dat hy die restauranteienaar Roberto da Silva in Oktober 2018 doodgeskiet het terwyl die beskuldigde onwettig in die land was, is nou soek. Dit volg nadat Ngwenya onder eienaardige omstandighede in Januarie 2022 borg ontvang het in die Hooggeregshof in Johannesburg. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree op ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag namens Cindy da Silva, Roberto se vrou.

Ngwenya se borgtog is op 28 Oktober 2022 finaal deur die hof verbeurd verklaar nadat hy weereens nie opgedaag het vir sy verhoor nie. Volgens die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weet die staat nie tans waar die beskuldigde is nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het by hierdie saak betrokke geraak nadat die oorledene se vrou die eenheid om hulp genader het. Dit volg nadat sy drie saakdossiere by die polisie aangemeld het. Die NVG het aanvanklik aangedui dat hulle die beskuldigde gaan vervolg op moord en drie klagtes van gewapende roof. Die beskuldigde was reeds in hegtenis aangesien hy ’n onwettige immigrant was. Ná verskeie uitstelle het Cindy da Silva egter gesien dat die beskuldigde in die galery tussen die publiek sit en duidelik nie meer in hegtenis was nie.

“Die NVG se onbeholpe hantering van hierdie saak het van meet af aan probleme veroorsaak. As die privaatvervolgingseenheid nie by die saak betrokke geraak het nie, sou die klagtes teen die beskuldigde heeltemal verdwyn het. Watter boodskap stuur dit uit aan die slagoffer se familie – dat hulle nie geregtigheid verdien nie? Die NVG en polisie is daarmee getaak om die gemeenskap te beskerm en toe te sien dat skuldige persone aan die pen ry, maar ons sien al hoe meer hoe hierdie verpligtinge versaak word. Daarom word organisasies, soos AfriForum, wat staatsinstellings verantwoordbaar hou, asook die vermoë om privaat te vervolg al hoe meer onontbeerlik,”  sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die NVG het ook vroeër vanjaar vir Da Silva in kennis gestel dat Ngwenya nie meer van moord aangekla gaan word nie, ten spyte van beeldmateriaal wat daarop dui dat Ngwenya al twee maal van te vore by die restaurant ingebreek het en kontant geroof het. Tydens die derde rooftog, is Roberto doodgeskiet.

Aangesien die NVG versuim het om die oorledene se geliefdes in kennis te stel van verwikkelinge in die saak, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedring op ’n ondersoek na hoe Ngwenya, gegewe die feit dat hy ’n onwettige immigrant was wat van moord aangekla word, enigsins borg gekry het. Dit het uit hierdie ondersoek geblyk dat die beskuldigde gedurende die feestyd in Desember 2021 ’n borgappèl geliasseer het en op “nuwe feite” op borg vrygelaat is in Januarie vanjaar.

Die eenheid het toe ’n formele afspraak gemaak en bygewoon met die adjunk-direkteur van die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng (DOV) se kantoor waaruit dit duidelik geblyk het dat hy nie eers bewus was van die borgappèl, die beeldmateriaal of die feit dat een van dossiere verlore was nie. Die eenheid het toe vertoë aan die DOV gerig dat die klag van moord heringestel moet word en het ook die inhoud van die verlore dossier en bewysmateriaal aan die NVG beskikbaar gemaak. Daarna het die NVG weer besluit om vervolging in te stel en die “verlore” dossier is skielik opgespoor.

“Ons sal nou vir Cindy bystaan om toe te sien dat die SAPD die nodige stappe doen om te sorg dat die beskuldigde opgespoor (en, indien nodig, uitgelewer) word sodat die verhoor kan voortgaan,” sê Vorster.