| |

Sukses: AfriForum-buurtwag weer plaasaanval af

Die AfriForum-buurtwag in Brits, Noordwes, het op 31 Augustus daarin geslaag om ’n plaasaanval af te weer.

Omstreeks middernag het die buurtwag ’n noodroep vanaf ’n inwoner op ’n plaas buite die dorp ontvang. Volgens die slagoffer het ’n groep verdagtes haar plaas se heining geknip en was in daardie stadium besig om haar huis se deur af te breek. AfriForum-buurtwaglede het onmiddellik gereageer en die aanvallers het gevlug.

Snuffelhonde is ontplooi om die verdagtes op te spoor.

Twee ure later het die buurtwag nog ’n noodroep in dieselfde omgewing ontvang. In hierdie voorval is ’n nagwag deur ’n groep van agt verdagtes aangeval. Die aanvallers is weereens agternagesit en verskeie observasieposte is in die omgewing opgerig.

Buurtwaglede het die aanvallers se spoor gevolg en hulle op heterdaad betrap terwyl hulle besig was om by ’n derde perseel in te breek. Die verdagtes het in die buurplaas se landerye ingevlug.

Die groep van agt was by al drie voorvalle betrokke.

“Dit is duideik dat die aanvallers die misdade goed beplan het en ook die omgewing baie goed ken. Ons is dankbaar dat die eerste slagoffer paraat was en deel is van ons veiligheidstrukture. Dit het daartoe gelei dat lede vinnig kon reageer en het heel moontlik nog voorvalle voorkom,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

“Die laksheid van die aanvallers om ’n reeks misdade ná mekaar te pleeg terwyl hulle op die vlug is, wys net weereens met watter enorme uitdaging ons voor te staan kom, daarom doen ons ’n beroep op die publiek om by hul naaste AfriForum-buurtwag betrokke te raak. Die realiteit is dat ons self verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid moet neem,” sluit Broodryk af.