| |

Verhoor van polisiegeneraal op klagtes van crimen injuria uitgestel sodat staatsprokureur sy huis in orde kan kry

Die verhoor van ’n polisiegeneraal op klagtes van crimen injuria was vandag in die Oudtshoorn Landdroshof op die rol geplaas vir verhoor. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag namens die 53-jarige Riana Stander (voorheen Viviers), die klaer in hierdie saak, en het die hofverrigtinge bygewoon. Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het egter vandag aangevoer dat haar saak deur die staatsprokureur hanteer word en dat die firma wat haar verteenwoordig nog nie deur die staatsprokureur goedgekeur is nie.

Die saak is uitgestel tot 2 September ten einde vas te stel of die prokureursfirma se aansoek by die staatsprokureur dan wel goedgekeur is en om ’n datum vir verhoor vas te stel. Die staat het nie die aansoek om uitstel teengestaan nie. Die staat het ook nie die verdediging se versoek dat die beskuldigde nie op 2 September by die hof hoef te wees, teengestaan nie. Die verdediging het aangevoer dat sy in Pretoria bly en nie so vêr wil reis vir hierdie verrigtinge nie.

“Ons is teleurgesteld dat die beskuldigde weereens daarin kon slaag om die verhoor verder te vertraag, aangesien hierdie saak reeds sedert 2016 sloer. Landdros Graehymme Williams was egter vandag baie streng en het aangedui dat die staat en verdediging die hof van sy diskresie om ’n beslissing te maak rakende die uitstel van die saak beroof het deur vooraf ooreen te kom oor die uitstel. Ons is verder verheug dat die saak uiteindelik voor die hof is en sal voortgaan om vir Riana by te staan om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het aanvanklik geweier om die beskuldigde te vervolg. Dit is eers nadat die privaatvervolgingseenheid in Julie 2019 namens Stander ’n nolle prosequi-sertifikaat versoek het om privaat te vervolg dat die staat sy besluit om nie te vervolg nie hersien het.

Die klagtes spruit uit ’n voorval in 2016 waar die beskuldigde na bewering beveel het dat Stander en ander beamptes (almal opleidingsbeamptes by die polisiekollege op Oudtshoorn) op ’n verhoog moes staan en daarna beledigende stellings gemaak het oor hulle kleredrag, gewig en velkleur ter toejuiging van die rekrute. Sy het onder meer haar eie vraag rakende wat fout was met die mense op die verhoog beantwoord deur te sê dat hulle te wit is. Stander het reeds in November 2016 net ná die voorval ’n saakdossier oopgemaak. Merendeels as gevolg van die trauma en spanning wat hierdie voorval veroorsaak het, is Stander intussen medies ongeskik verklaar en is sy nie meer in diens van die SAPD nie.