| |

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak maak parkie skoon en beveilig buurt

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 8 Junie ’n skoonmaakprojek van stapel gestuur waarin hulle ’n parkie in Bellville opgeruim het, om ’n skoner omgewing vir inwoners te skep en te help dat die woonbuurt nie agteruitgaan nie.

Die projek het gevolg nadat die tak reeds verskeie soortgelyke skoonmaakprojekte in die noordelike voorstede van Kaapstad aangepak het. Die tak het 35 sakke vullis opegtel, waarvan 19 uit Maree Park, kom. Maree Park, wat tans ’n oogseer en veiligheidsrisiko is, was vir die AfriForum-tak ’n prioriteit.

“Ons is dankbaar vir elke lid se bydrae, veral Yollanda Fritz en Kenny Denwoodie.   AfriForum se Kaapstad-Noord-tak sal aanhou om probleme in die area, saam met die gemeenskap op te los en druk toe te pas waar nodig,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Volgens Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, is hierdie aksies ’n sprekende voorbeeld van gemeenskappe wat omgee vir hul omgewing en vrywilligers wat elke dag hul tyd opoffer om die gemeenskap se belange te bevorder en te beveilig.

Maree Park het ’n veiligheidsrisiko geraak as gevolg van hawelose mense en kwaaddoeners wat in dié park oornag. Die park het nie publieke ablusiegeriewe nie en is as sulks nie ingerig vir mense om in die park te woon nie. As gevolg daarvan hou die park ’n gesondheidsrisiko vir die omgewing in en die saak is by die plaaslike raadslid aangemeld.

“Die Kaap is besonders geseënd met ’n pragtige omgewing en skoonmaakprojekte soos hierdie dra by om ons woonbuurte skoon en veilig te hou,” sluit Crous af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak en deel te word van die oplossing. Sluit vandag nog by AfriForum se Kaapstad-Noord-tak aan: SMS “Kaapstad-Noord” na 45350 (R1).