| |

Witrivier-tak rig veiligheidsbord met noodnommers op

Die AfriForum-tak in Witrivier het op 31 Mei ’n bord wat veiligheidsnommers bevat by die Casterbridge-sirkel langs die Numbi-pad aangebring.

Na ’n reeks aanvalle op toeriste wat die pad gebruik om na die Krugerwildtuin te reis, het die Witrivier-buurtwag besef daar moet dringend aandag aan die probleem geskenk word. Daar is dus besluit om die bord op te rig wat die Witrivier-buurtwag se noodnommer en die kontakbesonderhede van die SAPD en ander veiligheidsmaatskappye in die dorp bevat.

“Dit is noodsaaklik vir motoriste om te besef dat hierdie gedeelte van die pad deurloop onder misdaad. Ons het hierdie bord opgerig sodat motoriste ons kan kontak vir hulp indien daar enige probleme op die pad sou wees,” sê Dawie Ruthven, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.

“Die veiligheid van die Witrivier-gemeenskap is een van AfriForum se hoofprioriteite, daarom is hierdie projek noodsaaklik. Die toerismebedryf in die omgewing gaan gebuk onder baie druk as gevolg van misdaad en met die oprig van die hierdie nuwe bord dra ons ook die veiligheid van toeriste op die hart,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Witrivier-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van die projek om sodoende die veiligheid van motoriste op die pad te verseker.