| |

AfriForum-buurtwag in Stilfontein hou gemeenskap veilig

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het ’n besige maand agter die rug en het in daartoe bygedra dat die misdaadsyfers in Stilfontein gedaal het. Altesaam 128 patrollies is gery en ongeveer 4 478 km is tydens hierdie patrollies afgelê.

Die buurtwag het talle arrestasies uitgevoer en die verdagtes aan die SAPD oorhandig. Die oortredings wat gepleeg is sluit onder meer in betreding, huisbraak, die vergiftiging van honde en die beskadiging van infrastruktuur. Die buurtwag maak ook gereeld ’n draai by leë huise wat maklik vir onwettige bedrywighede gebruik word.

Die buurtwag versamel verder nuttige inligting rakende misdade en deel dit met die SAPD wat dan kan optree. Talle verdagte voertuie is dopgehou en die besonderhede is aan die SAPD gegee sodra dit blyk dat die voertuig met onwettige bedrywighede besig is.

Die buurtwag hanteer talle voorvalle om die gemeenskap veilig te hou, waaronder bakleiery, die blus van brande, dronkbestuur, tref-en-trap-ongelukke, beskadiging en diefstal van infrastruktuur, verwydering van betreders, gevalle van aanranding en betreding, huishoudelike geweld en roof. Die buurtwag waarsku die gemeenskap ook teen water wat ná ’n hewige reënbuie oor die pad stroom.

Die buurtwag is betrokke by gemeenskapsprojekte en het ’n skool met die vul van slaggate gehelp. Tydens ’n hoё sigbaarheidspatrollie saam met Orkney se buurtwag wat in Stilfontein gehou is, is geen misdaad van die Saterdagaand tot die Maandag aangemeld nie.

“Dit is vir my ’n riem onder die hart om te sien hoe die lede van buurtwag uit hulle pad gaan om te help om die dorp te beveilig. Die toegewydheid en bereidwilligheid van elke lid om te help, is ongeëwenaard en dit is waarom daar soveel suksesse is,” sê Marius Trollip, AfriForum se buurtwagleier in Stilfontein.

Volgens Joseph Renaud, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek, kan geen dorp of stad werklik vandag bekostig om nie ’n gemeenskapsveiligheidstruktuur in plek te hê nie. “Die verskil wat ons vrywillige patrolleerders maak is duidelik en dit laat die gemeenskap gerus voel oor hul veiligheid. Ons kry daagliks goeie terugvoer vanuit die gemeenskap wat getuig van die buurtwag se professionele optrede.”

“Ek is oortuig daarvan dat geen dorp sonder die onbaatsugtige werk van ’n AfriForum-buurtwag kan regkom nie. Hulle dra grootliks by tot die gemeenskap se veiligheid en in ’n dorp soos Stilfontein. Ek moedig inwoners wat nog nie aktiewe lede van die buurtwag is nie, om aan te sluit,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by dié buurtwag betrokke deur vir Marius Trollip by 082 494 4123 te kontak.