| |

Beskuldigde pleit onskuldig op klagtes van poging tot moord en verkragting ná hy ‘doelbewus’ MIV versprei

Die verhoor van ’n 45-jarige beskuldigde, wat teregstaan op klagtes van poging tot moord en verkragting nadat hy na bewering die klaagster met MIV besmet het terwyl hy geweet het dat hy die virus het en hierdie feit verswyg en ontken het, het gister in die Landdroshof in Pretoria begin. Hy het onskuldig gepleit op alle klagtes en die staat het aangedui dat die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf van toepassing is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak namens die klaer, Lina Antoinette Ndishishi (32). Sowel die beskuldigde as die klaagster was ten tye van die pleeg van die beweerde misdrywe lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Die saak sal eers op 14 Junie 2022 hervat as gevolg van die beskikbaarheid van landdros F. Ntlati.

Die privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie saak betrokke geraak en die SANW gedwing om sy mediese verslae te verskaf wat bewys dat hy reeds sedert 2007 bewus was van die feit dat hy MIV-positief is. Hierdie feit is ook gister in terme van artikel 212 B van die Strafproseswet, 51 van 1977, deur die verdediging in die hof erken. Die SANW se weiering om die verslae te verskaf, het daartoe gelei dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak twee maal moes terugtrek wat beteken dat, sonder die privaatvervolgingseenheid se volgehoue druk op die SANW, sou daar nie genoeg bewyse in die dossier gewees het sodat die beskuldigde uiteindelik vervolg kon word nie.

“Die privaatvervolgingseenheid is verheug dat die beskuldigde se vervolging uiteindelik gister kon begin, ten spyte van verskeie vertragingstaktieke wat in die verlede deur die verdediging ingespan is. Hierdie is ’n baanbrekersaak vir die geveg teen geslagsgebaseerde geweld in ’n land waar oortreders heeltemal te dikwels wegkom met die mishandeling van vroue en kinders. Ons moet die aanklaer in die saak, adv. Emile van der Merwe, komplimenteer vir die wyse waarop hy die saak benader en is vol vertroue dat geregtigheid uiteindelik vir die klaer sal geskied,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Ndishishi, tans ’n sersant in die Lugmag, het gister getuig dat sy MIV-negatief was voordat sy die beskuldigde op 16 Desember 2016 ontmoet het. Sy moes as deel van die SANW se standaardprosedure om mediese geskiktheid te bepaal in Augustus 2016 ’n MIV-toets ondergaan en het ook op 1 Desember 2016 as deel van die SANW se bewusmaking van Wêreldvigsdag getoets vir MIV – albei uitslae van hierdie toetse was negatief.

Ndishishi en die beskuldigde was sedert Desember 2016 tot April 2017 in ’n verhouding. Sy het getuig dat hy tydens seksuele omgang die kondoom sou verwyder, ten spyte van die feit dat hulle op daardie geleenthede ooreengekom het dat hulle slegs omgang sou hê as hy ’n kondoom dra en dat hy haar verskeie kere verseker het dat hy MIV-negatief is. Die beskuldigde het ook volgens Ndishishi se getuienis verskeie kere geweier om saam met haar vir ’n MIV-toets te gaan en kwaad geword as sy hom oor sy MIV-status uitgevra het.

Dit het later aan Ndishishi bekend geword dat die beskuldigde op ’n stadium in dieselfde eenheid was as haar broer, Paulus Shongela Ndishishi, wat in April 2013 in ’n helikopterongeluk in die Kruger Wildtuin gesterf het in die uitvoering van ’n teen-renosterstroperyoperasie. Die beskuldigde is ook in Januarie 2017 gearresteer vir die besit van ammunisie terwyl hy deel van die SANW se spesmagte was.