| |

AfriForum Pongola-tak knap vliegveld op

Die AfriForum-tak in Pongola het onlangs begin om die plaaslike vliegveld op te knap, nadat die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit nie hierdie verpligtinge nagekom het nie.

Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die instandhouding van die vliegveld.

“Hierdie is ons enigste vliegveld en al die ander vliegvelde is baie ver van ons af. Ons tak het besluit om met opknappingswerk te begin, sodat dit weer veilig is vir vliegtuie om hier te kan opstyg en land,” sê Alton Vlok, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak.

“Soveel munisipaliteite laat nie net basiese dienste agterweë nie, maar ook die nodige veiligheidsmaatreëls. ’n Vliegveld in afgesonderde gemeenskappe is veral van kardinale belang,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Die veiligheidsligte aan die geboue is alreeds vervang en die gras word maandeliks gesny. Die gras langs die aanloopbaan word met onkruiddoder behandel en verskeie miershope is platgestoot,” het Vlok bygevoeg.

Die Pongola-tak beplan nog om herstelwerk aan die geboue te doen en om strepe op die aanloopbaan te verf.