900 onbenutte staatsplase bevestig onteiening sonder vergoeding sal misluk
AfriForum is van mening dat die regering se erkenning dat bykans 900 plase – wat aan die staat behoort en sowat 700 000 hektaar beslaan – onderbenut word of ongebruik is weer eens bevestig dat die regering se poging om meer radikale grondhervorming in die vorm van onteiening sonder vergoeding deur te voer op ’n ramp afstuur.
Dié erkenning is op 1 Oktober gemaak deur Thoko Didiza, minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. Ten spyte van die klaaglike mislukking wat voedselsekerheid betref, sal dié grond nie geprivatiseer word nie, maar aan die publiek “beskikbaar gestel word” in die vorm van 30 jaar-huurpagte.
Volgens Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, dui die regering se optrede met betrekking tot grondhervorming duidelik aan dat die regering se doel nie is om grond in privaat eienaarskap te vestig nie. Dit is selfs nie eens om voedsel- of ekonomiese sekerheid te verseker nie. Die regering se doel is om die staat die eienaar van die grond te maak wat dan – kwansuis ten behoewe van die samelewing – sal besluit hoe daardie grond bestuur moet word.
Dit is juis bevestig toe die regering vroeër toegegee het dat meer as 90% van grondhervormingsprojekte misluk het, maar hulle nie van stryk gebring sal word om met staatsgedrewe grondhervorming voort te gaan nie. Dit is herbevestig toe dit bekend geword het dat slegs 6% van die landbougrond wat deur die staat bekom is in privaat eiendom omgeskakel is. Dit is nou wéér bevestig deur die regering se aankondiging oor die 900 plase en hoe dit hanteer sal word.
“Dit is asof die regering glo dat ’n mislukte regeringsbeleid skielik sal werk as dié beleid net meer aggressief deurgevoer word – boonop met die blinde vertroue dat dit nie bloot tot ’n meer aggressiewe mislukking sal lei nie,” sê Roets.
Roets sê voorts AfriForum glo dat ongeregtighede met betrekking tot grond reg gestel behoort te word deur eienaarskap van die grond te vestig in dié wat van die grond ontneem is, eerder as die staat. Dit moet egter met vergoeding plaasvind en verskil van blinde herverdelingsprogramme wat op ras gegrond is. “Die staat jaag rasseteikens egter onbeheers na, ongeag die vernietigende impak daarvan op die samelewing in geheel.”