|

Afrikaners gaan nie toestemming vir outonomie vra nie

Deur Alet Rademeyer

Die pad na selfbestuur, groeiende outonomie vir Afrikaners, vryheid deur instellings en burgerlike verset is van die temas wat vandag by die eerste amptelike Kajuitraad van Opinor en AfriForum bespreek is.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat groeiende outonomie nodig is om ’n federale bestel te vestig. “Groeiende outonomie is ’n beleidsbeginsel wat ons aanvaar het. Magte moet van die sentrale regering afgewentel word sodat gemeenskappe hulle eie besluite kan neem oor sake soos onderwys, gesondheid, polisiëring en plaaslike regering.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

“Gemeenskapsfederalisme is deel van AfriForum se DNS. Dit is meer as net ’n politieke staatkundige konsep. Dis ook ’n selfdoenbeginsel. Ons hoef nie die ANC se toestemming te vra om as gemeenskappe beheer oor ons eie sake te neem nie. Federale planne hoef nie in afhanklikheid van die staat gemaak te word nie.”

“Die ANC gaan nie ja sê nie, want ons gaan hulle nie vra nie. Ons hoef nie hierdie onderdrukkende bestel in stand te hou nie.”

Kallie Kriel

Kriel sê sentralisme (deur die regering) is die wortel van alle kwaad. “Kakistokrasie (’n regering deur die slegstes) en korruptokrasie is die rede waarom alles in die land verswak. Terwyl die beginsel van federalisme nagestreef word, moet egter onthou word dat die demografie die planne hiervoor bepaal. Daarom het ons verskillende planne vir verskillende gebiede.”

Kriel het drie planne uiteengesit naamlik:

  • Ankergemeenskappe waar Afrikaners in groot getalle bymekaar is en waar hulle danksy hul getalle bepaalde goed kan doen soos om skole, ouetehuise en ander dienste te vestig.
  • Die tweede plan is die Orania-plan waar daar ’n Afrikanermeerderheid is. Dié plan maak dit vir gemeenskappe moontlik om hul eie planne soos ’n werkende munisipaliteit, werkskepping, ontwikkelings en sonplase aan te pak.
  • Die derde plan is steun vir groeiende outonomie in die Wes-Kaap. Hoewel Afrikaners nie daar ’n meerderheid is nie, is hulle wel deel van ’n meerderheid wat nie die ANC ondersteun nie. Deur in koalisie met ander groepe te gaan, is dit moontlik om beheer oor sake te kry.

Kriel sê hoewel daar kritiek sal wees dat die ANC Afrikaners nie sal toelaat om hul eie planne uit te rol nie, kan ons nie toelaat dat ons aspirasies afgeskaal word nie. “Die ANC gaan nie ja sê nie, want ons gaan hulle nie vra nie. Ons hoef nie hierdie onderdrukkende bestel in stand te hou nie.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het oor die pad na selfbestuur gepraat en gesê demografie bepaal die toekoms. Die Afrikaner se grootste vraagstuk is dat ons yl versprei oor ’n groot gebied is.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Volgens hom het klein volke hul eie grondgebied nodig omdat wette alleen nie voldoende is om hulle as minderheid te beskerm nie.

Buys het ’n selfbestuurstrategie vir die Afrikaner uiteengesit om vir hom ’n beter toekoms te skep. Die strategie behels die implementering van ’n selfhelpbeweging in ankergemeenskappe waar Afrikaners na hul belange omsien; Pretoria as ’n kulturele kanton waar eie instellings gebou word; steun vir groter outonomie in die Wes-Kaap as ’n politieke strategie en die Oraniagebied as ’n kanton waar die ontwikkelingsplan uitgerol word.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gepraat oor gemeenskappe wat verkrummel of ontwikkel wanneer hulle voor groot uitdagings te staan kom. Afrikaners het nog elke keer opgestaan en gekies om te ontwikkel en te bou ná uitdagings en terugslae soos die Anglo-Boereoorlog (ná 1902), die Rebellie (ná 1915), die armblankevraagstuk (1930’s).

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

“Verkrummeling is nie vir ons ’n opsie nie. Ons gaan ons instellings bou en gebruik om vir ons ’n toekoms te skep.”

Dr. Dirk Hermann

Die Afrikaner se vierde krisis het gekom met die ordeverandering in 1994. “Ons het toe nie meer instellings gehad nie en die langtermyngevolge daarvan onderskat.”

Hermann sê ook dié krisis het Afrikaners genoop om weer te bou en in 1997 is met die Solidariteit Beweging begin.

“Verkrummeling is nie vir ons ’n opsie nie. Ons gaan ons instellings bou en gebruik om vir ons ’n toekoms te skep.”

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het na die belangrikheid van die behoud van erfenis en geskiedenis verwys. “’n Mens kan nie uit ’n krisis kom as jy nie weet waar jy vandaan kom nie. Erfenis is ons geestelike DNS en dis hoekom ons goed op ’n sekere manier doen en ons waardes en tradisies huldig.”

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Sy het verduidelik dat die Afrikaner se erfenis voortdurend in die spervuur is. “Daar is vandale, misdadigers en meer gesofistikeerde misdadigers wat nie net monumente en terreine beskadig en vernietig nie, maar selfs erfenisgeboue sloop. Voorts is die bedreiging daar van ’n ideologie wat eis dat erfenishulpbronne uit gemeenskappe verwyder word en die geskiedenis verdraai word.

“Ons wis ons eie voetspore uit. Dink maar aan die tyd toe ons briewe en boeke geskryf het, dagboeke gehou en koerante gelees het. Die koms van sosiale media het dit alles verander.”

Alana Bailey

“Wêreldwyd is daar ook bewegings teen erfenis wat ook hier te sien was met byvoorbeeld die #RhodesMustFall-veldtog. Dan is daar ook nog subtiele aanslae soos die aandrang op naamsverandering en laaste maar nie die minste nie bedreig ons ook ons eie erfenis. Ons wis ons eie voetspore uit. Dink maar die tyd toe ons briewe en boeke geskryf het, dagboeke gehou en koerante gelees het. Die koms van sosiale media het dit alles verander.”

Bailey het beklemtoon dat ons self ons toekoms moet bewaar omdat die staat dit nie gaan doen nie.

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, het gesê die keuse op Orania as ’n oplossing vir Afrikaners is gegrond op navorsing. “Ons het ’n geloofwaardige idee, ’n plan om die idee uit te voer en nou moet dit gekommunikeer word.”

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy

Hy het gesê daar is drie redes hoekom Orania van dorp tot stad moet ontwikkel. Dit is ’n plek van veiligheid waar Afrikaners bymekaar kan wees en waar ’n stedelike omgewing geskep kan word. Dit gee Afrikaners politieke mag waar hulle beheer het oor wat met hulle gebeur.

Volgens de Klerk moet vryheid geleef word. “Selfbestuur en selfverantwoordelikheid is ook nie konsepte net vir Afrikaners nie. Dit dui op inisiatief en ondernemerskap en dra ’n positiewe boodskap uit oor ons rol.”

Prof. Koos Malan, dosent in Publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, het gepraat oor of Suid-Afrika nog regeerbaar is of nie. “Suid-Afrika is in teenstelling tussen die Verwoerdiaanse staat wat, met kritiek en al, fenomenaal goed funksioneer het met Afrikaners wat kon bestuur teenoor die huidige regeringloosheid wat van Mandela tot nou net vererger het.

Prof. Koos Malan, dosent verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

“Die regering nou is ’n planlose kohort van amptenare wat salarisse betaal word om uit donker kantore te kyk hoe die land in duie stort. Die ANC-regering is ’n weergalose mislukking wat nooit hier moes gewees het nie.”

Volgens Malan het ons in staatloosheid verval en is ons ’n landstreek verdeel in ’n woesteny van wetteloosheid, misdaad, korrupsie, krygshere en verval. Daarteenoor is daar oases soos Midstream en Dainfern waar gemeenskappe reeds selfbestuur voltrek het. Buiten die Afrikanergemeenskap is daar ook ander gemeenskappe wat outonoom is en hulself so handhaaf.

Met verwysing na selfregerende gebiede meen Malan daar kan in die toekoms ook van mikro-republieke gepraat word waar gemeenskappe hulself sal regeer.

Alida Kok, departementhoof van Sosiale Wetenskappe by Akademia, het gesê burgerlike gemeenskappe is toenemend besig om hulself te mobiliseer. Sy meen ook ’n federale stelsel is die oplossing met desentralisering van mag en politiek wat nodig is.

Alida Kok, departementshoof van Solialewetenskappe by Akademia.

Foto’s: Reint Dykema

Soortgelyke plasings